Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 1:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Van Paulus.Ek is deur Christus Jesus as ’n apostel aangestel. My aanstelling dra ook God se goedkeuring weg. Timoteus, een van my helpers en ons broer in die Here, stuur groete vir julle.Ek skryf aan almal van julle in die kerk in Korinte. Ja, en ook aan almal wat deel van God se kerk is in die res van die Romeinse provinsie Agaje.

2. God ons Vader en die Here Jesus Christus gee aan julle almal genade en vrede.

3. Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die eer toe. As ons Vader oorstroom Hy ons met sy goedheid. As ons God troos Hy ons.

4. Hy staan by ons en help ons in al ons krisisse. Daarom kan ons ander mense help en troos wanneer hulle swaarkry. Ons kan presies dieselfde troos met hulle deel as wat God met ons gedeel het.

5. Net soos Christus vroeër gely het, ly ons nou ook. Ons kry regtig baie swaar omdat ons sy volgelinge is. Maar gelukkig oorlaai Christus ons elke dag met sy goedheid en met sy troos.

6. Ek het al dikwels swaargekry omdat ek in Christus glo, maar Hy het my nog elke keer daardeur gehelp. Daarom kan ek julle nou troos wanneer julle swaarkry. Ek kan julle help om aan te hou glo. Wanneer ek God se troos ervaar, deel ek dit ook met julle terwyl julle dapper dieselfde soort lyding as ek ervaar. Natuurlik twyfel ek nie vir ’n enkele oomblik dat julle sal aanhou glo nie.

7. Ek weet dat julle dieselfde lyding as ek ervaar. Maar ek weet ook dat julle dieselfde troos as ek van God ontvang.

8. Weet julle, ek het onlangs in Asië baie gely ter wille van my geloof. Dit was verskriklik. Ek is so erg mishandel dat ek dit later nie meer kon uithou nie.

9. Dit het gevoel of ’n doodsvonnis oor my uitgespreek is. Maar ek het toe ’n baie belangrike les geleer. Ek het geleer om te bly vashou aan God wat selfs die dooies lewendig kan maak.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 1