Ou Testament

Nuwe Testament

1 Timoteus 6:14-21 Die Boodskap (DB)

14. Voor God en Christus vra ek mooi: doen al hierdie dinge presies so en moenie foute maak nie totdat ons Here Jesus Christus weer kom.

15. Dit sal gebeur wanneer God dink dat dit tyd daarvoor is. Dan sal Hy sorg dat dit gebeur. Hy is mos ons wonderlike en enigste Heerser. Hy regeer oor almal wat in hierdie wêreld regeer en Hy heers oor almal wat in die wêreld heers.

16. Hy leef vir altyd. Ons kan nie by sy blyplek kom nie, want dit is omgewe deur ’n helder lig. Daarom het niemand Hom nog ooit gesien nie en kan niemand Hom sien nie. Almal moet sy Naam grootmaak, want die krag wat nooit ophou nie, is Syne. Sowaar!

17. Waarsku die mense wat in hierdie wêreld baie geld het om nie te veel van hulleself te begin dink nie. Hulle moet nie hulle hele lewe op geld en rykdom bou nie, want dit hou nie baie lank nie. ’n Mens kan ook nie seker wees dat jy altyd geld sal hê nie. Hulle moet eerder hulle lewe bou deur op God te vertrou. Hy sal sorg dat ons alles kry wat ons nodig het om van te leef. Praat mooi met die ryk mense.

18. Vra hulle om hulle geld te gebruik om arm mense mee te help. Hulle moet nie suinig wees nie en moet graag met ander deel wat hulle het.

19. So sal hulle soveel goeie dinge doen dat hulle in die oë van God en die mense baie ryk sal wees, nie omdat hulle baie geld het nie, maar omdat hulle soveel goeie dinge gedoen het. So belê hulle eintlik in die bank van God. Dit is die beste belegging waaraan ’n mens kan dink, veral vir die toekoms. So sal die ryk gelowige ook die ware lewe by God hê.

20. Liewe Timoteus, kyk mooi na alles wat jy gevra is om te doen. Moenie jou tyd mors met die gepraat wat niks met God te doen het nie. Wees versigtig vir daardie klomp wat met hulle deurmekaar redenasies wil voorgee dat hulle so wetenskaplik en slim is.

21. Party van die gemeentelede het agter hulle aangeloop. Só het hulle eintlik weggeloop van hulle vertroue op God. Mag God baie goed wees vir julle, meer as wat julle verdien.

Lees volledige hoofstuk 1 Timoteus 6