Ou Testament

Nuwe Testament

1 Tessalonisense 2:1-7 Die Boodskap (DB)

1. My liewe broers en susters, julle weet self dat my besoek daar by julle goed afgeloop het. Baie mense het tot bekering gekom toe hulle die goeie nuus gehoor het.

2. Net voor ek en my helpers daar na julle toe gekom het, was ons eers in die stad Filippi. Ongelowige mense het ons daar verskriklik sleggesê en mishandel, maar dit het ons glad nie ondergekry nie. God het ons geloof sterk gemaak. Daarom was ons nie bang om na julle toe te gaan nie. Tog was dit nie so maklik om die goeie nuus in julle stad te preek nie. Die mense het ons baie swaar laat leef.

3. Ons het aanhou preek en vir die mense gesê om te glo. Ons het nie ons prediking skielik afgewater of verdraai om onsself te pas nie. Ons het nie geheime agendas nie.

4. Nee, God self het ons uitgesoek vir hierdie wonderlike roeping. Hy het die evangelie in ons hande toevertrou. Ons sê daarom net wat Hy vir ons sê. Ons probeer nie om in mense se goeie boekies te wees nie. Ons doen net wat God van ons verwag. Hy weet wat die diepste motiewe van ons hart is.

5. Ons sal nooit dinge sê om by mense gewild te probeer wees nie. Julle weet dit al teen dié tyd. Ons probeer ook nie op skelm maniere geld maak uit die evangelie nie. God is ons getuie. Hy ken ons harte.

6. Ook soek ons nie na die erkenning van mense nie, nie julle s’n nie en ook nie ander mense s’n nie.

7. Natuurlik kon ek my gesag daar by julle misbruik het as ek regtig wou. Ek is immers deur Christus self as sy apostel aangestel. Maar ek was glad nie kwaai met julle nie. Allesbehalwe. Ek het julle vertroetel en mooi versorg, net soos ’n liefdevolle mamma wat haar kindertjies borsvoed.

Lees volledige hoofstuk 1 Tessalonisense 2