Ou Testament

Nuwe Testament

1 Petrus 5:8-14 Die Boodskap (DB)

8. In die geestelike stryd moet julle op en wakker wees. Julle het ’n gevaarlike vyand, die duiwel. Hy loop rond soos ’n honger leeu wat iemand soek om te verskeur. As hy julle aanval, moet julle met julle geloof in die Here terugveg.

9. Moenie toelaat dat hy julle geestelike fondamente skud nie. Laat dít vir julle ’n troos wees: daar is Christene oor die hele wêreld wat as Christene dieselfde dinge as julle ly omdat hulle dieselfde stryd as julle stry.

10. Hierdie swaarkry as Christene sal nie meer so lank aanhou nie. Daarvoor sal God sorg. Dit is immers Hy wat soveel goeie geskenke vir ons gee sonder dat ons dit verdien. Hy het Christus Jesus gestuur, deur wie God ons ook uitnooi om vir altyd sy eregaste te wees. Al ly julle nou ’n rukkie, sal God self vir julle julle ereplek by Hom gee. Hy sal vir julle al die krag gee wat julle nodig het, sodat niks en niemand dan meer iets aan julle sal kan doen nie.

11. Hy kan dit doen, want al die krag behoort aan Hom, nou en vir altyd. Daaraan hoef niemand eens te twyfel nie.

12. Silvanus het my gehelp om hierdie kort briefie aan julle te skryf. Hy is ’n mede-Christen op wie ’n mens kan staatmaak. My doel met die brief is om julle moed in te praat deur julle weereens aan alles te herinner wat ons God vir ons gee sonder dat ons dit verdien. Dit is ware genade. Gryp dit met albei hande vas en moet dit nooit los nie.

13. Julle sustergemeente in Babilon (Rome) stuur groete, asook Markus, wat vir my soos ’n seun is.

14. Vou mekaar toe in Christelike liefde. Mag God aan julle groot rustigheid en vrede hier diep in julle binneste gee, aan almal van julle wat Christene is.

Lees volledige hoofstuk 1 Petrus 5