Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 5:9-13 Die Boodskap (DB)

9. In my vorige brief het ek julle gevra om weg te bly van mense af wat nie weet hoe om hulle behoorlik op seksuele gebied te gedra nie. Dit lyk my of julle my verkeerd verstaan het.

10. Ek het nie gepraat van nie-Christene wat verkeerde dinge doen soos seksuele sonde, of wat net vir geld leef of met lieg en bedrieg ander uitbuit nie. Ek het nie mense bedoel wat in plaas van God allerhande ander goed aanbid nie. As ek van hulle gepraat het toe ek gesê het julle moet nie met sulke mense deurmekaar raak nie, sou dit mos beteken het dat ons op ’n ander planeet moes gaan bly.

11. Wat ek eintlik bedoel het, is dit: julle moet julle nie ophou met iemand wat sê hy is ’n Christen, maar die teenoorgestelde doen nie. Dit is nou “kamma-Christene” wat soos nie-Christene leef deur seksueel skandelike dinge te doen, wat vir niemand behalwe hulleself omgee nie, wat meer lojaal teenoor ander dinge as teenoor die lewende God is, wat allerhande stories versprei wat ander mense baie seermaak, wat in niks anders as drank belangstel nie, of wat net daarop uit is om ander mense te kul en te bedrieg. Met so iemand moet jy niks te doen hê nie.

12. Dit is nie my werk om oor nie-Christene se lewe skeidsregter te speel nie.

13. God sal met daardie mense afreken. Maar julle moet verantwoordelikheid neem vir wat in julle gemeente aangaan. Die Skrif sê mos: “Raak ontslae van die mense onder julle wat nie reg lewe nie.”

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 5