Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 15:44-58 Die Boodskap (DB)

44. Ons sterf as gewone aardse mense, maar ons gaan lewendig word in ’n nuwe geestelike liggaam.Soos daar ’n gewone aardse liggaam is, so is daar ook ’n geestelike liggaam.

45. In die Skrif staan daar dat die eerste mens, Adam, ’n lewende mens geword het. Maar die laaste Adam, dit is Christus, is die Gees wat mense geestelik lewendig maak.

46. Ons word dus eers met ons gewone aardse liggaam gebore. Die geestelike liggaam kry ons eers later.

47. Die eerste mens, Adam, is mos uit die grond van die aarde gemaak; die tweede mens, Christus, het uit die hemel gekom.

48. Die mense op aarde is almal soos Adam, maar die mense wat in die hemel is, is soos Christus.

49. Aanvanklik was ons almal aards soos Adam, maar in die toekoms sal ons lyk soos Christus wat uit die hemel gekom het.

50. My liewe broers en susters, wat ek met ander woorde wil sê, is dit: ons, met ons aardse liggame, kan nie in die nuwe wêreld van God ingaan nie. ’n Liggaam wat doodgaan en vergaan, kan tog nie in die nuwe wêreld van God gaan bly waar alles vir altyd hou nie.

51. Laat ek julle ’n geheim vertel: nie almal sal doodgaan voor die Here kom nie. Dié wat nog in hulle aardse liggame lewe wanneer Hy kom, sal in die plek daarvan ’n nuwe geestelike liggaam kry.

52. Wanneer daar aangekondig word dat die Here kom, sal dit vinniger gebeur as wat die oog kan sien. Dit sal so gebeur: die aankondiging sal kom dat die Here kom en dan sal die mense wat al dood is, lewendig gemaak word met hulle nuwe liggame; dié wat in daardie stadium nog op aarde lewe, sal dadelik ’n nuwe liggaam kry.

53. Hierdie liggaam wat ons nou het, gaan agteruit en is op pad na die dood toe. Die nuwe liggaam wat ons gaan kry, sal nie agteruitgaan nie en sal ook nooit doodgaan nie.

54. Wanneer dit alles gebeur, sal dit presies wees soos die Skrif gesê het dit gaan wees: “Die dood het nie meer enige krag of invloed nie. God het al die krag as oorwinnaar.

55. “Daar is net mooi niks oor van die dood se mag nie. Sal die dood ons nog kan seermaak? Nee, vir seker nie.”

56. Sonde is die oorsaak dat ons doodgaan. En ons kan nie stry dat ons in sonde vasgevang is nie omdat die wet van God so duidelik daar is en dit vir ons wys.

57. Maar ons is anders; ons het baie waarvoor ons vir God baie dankie kan sê. Jesus Christus het gewen en omdat Hy gewen het, het God ons saam met Hom wenners gemaak.

58. My liewe broers en susters, dit gee julle alle rede om julle nie ’n duim te laat wegbeweeg van dit waarin julle glo nie. Staan vas. As daar iets is wat julle vir die Here kan doen, doen dit en nog meer, maak nie saak wanneer en waar nie. Julle twyfel mos nie een oomblik daaraan dat wat julle vir die Here doen die moeite werd is nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 15