Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 15:11-22 Die Boodskap (DB)

11. Eintlik maak dit nie saak wie die werk doen nie, solank dit net gedoen word. Of dit nou ek is of die ander apostels, ons het dieselfde goeie nuus vir julle kom vertel en julle het dit julle eie gemaak.

12. Daar is tog geen twyfel oor die boodskap nie: Jesus was dood en is weer lewendig gemaak. Hoe is dit dan nog moontlik dat party van julle kan twyfel en sê dat God nie mense wat dood is lewendig sal maak nie?

13. As God nie iemand wat dood is lewendig kan maak nie, sou Hy ook mos nie vir Jesus lewendig kon maak nie.

14. As dit darem waar sou wees, beteken dit dat alles wat ons vir julle vertel het, net ’n klomp leuens is en dat julle in net mooi niks glo wanneer julle sê julle glo in Christus nie. En dit is nie al nie.

15. As Jesus nog dood is, beteken dit dat ons ’n klomp leuens oor God ook vertel, want ons sê mos dat Hy Christus lewendig gemaak het.

16. As God nie mense lewendig gaan maak nie, geld dieselfde mos vir Jesus - dan is Hy mos ook nie lewendig gemaak nie.

17. En as God Hom nie lewendig gemaak het nie, is julle nog maar net soos julle altyd was, van kop tot tone in die sonde.

18. Dan help dit niks meer dat julle sê julle glo nie. Dan is nie net ons nie, maar ook al die ander Christene wat al dood is, sonder enige hoop totaal verlore.

19. As Christenskap net iets beteken terwyl ons nog op hierdie aarde is en daar vir ons niks meer oor is daarna nie, is ons ’n hopelose spul mense vir wie ander net baie jammer kan voel.

20. Die waarheid is heeltemal anders: God hét Christus lewendig gemaak nadat Hy aan die kruis dood is. En Christus is maar die eerste Een van nog baie om te kom, dit waarborg Hy.

21. Dit werk so: dit was ’n mens, Adam, se skuld dat die dood nou elkeen van ons tref. Maar dit is ook ’n mens, Christus, wat daarvoor gesorg het dat mense wat dood is weer lewendig gemaak kan word.

22. Omdat ons mense soos Adam is, het die dood deel van ons elkeen se bestaan geword, net soos dit deel van sy bestaan was. Net so, deur Christus se mense te wees sal elkeen lewendig gemaak word soos Hy.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 15