Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 11:1-11 Die Boodskap (DB)

1. In ’n neutedop: julle moet doen wat ek doen, net soos ek doen wat Christus doen.

2. Dit is vir my lekker om te hoor dat julle my nie vergeet het nie, maar gedurig aan my dink en dat julle die dinge doen wat ek vir julle as Christene geleer het.

3. Daar is nog iets wat ek vir julle wil sê. Elke man staan onder die gesag van Christus en die vrou onder die gesag van die man. Almal staan egter onder die gesag van God.

4. As enigiemand met God of oor God praat sonder die nodige respek, respekteer hy ook nie vir Christus nie.

5. Net so steek ’n vrou haar man in die skande as sy sonder respek vir haar man met of oor God praat. Dit is so goed sy mismaak haarself liederlik. Sy kan haar maar mismaak as sy nie, soos ons gebruik is, uit respek vir haar man iets op haar kop het nie.

6. As sy dit nie wil doen nie, moet sy maar al haar hare afsny. Dit is ons gebruik; ’n vrou moet iets op haar kop hê as teken van haar respek vir haar man, maar

7. ’n man moet dit juis nie doen nie, uit respek vir God. Iets van die grootheid van God moet in die man sigbaar word. As teken daarvan moet hy dus nie iets op sy kop sit nie. Deur die klere wat ’n vrou aantrek, moet sy weer iets van haar respek vir haar man wys. Julle vra waarom.

8. Wel, God het mos nie die man uit die vrou gemaak nie, maar die vrou uit die man.

9. Die man is nie gemaak omdat daar ’n vrou was nie, maar die vrou omdat daar ’n man was.

10. Daarom moet die vrou iets op haar kop dra om so te wys sy respekteer haar man. Selfs die hemelse wesens, die engele, sal dit kan sien. Noudat ons Christene is wat die Here dien, moet ons nie te veel argumenteer oor wie nou juis die belangrikste is, die man of die vrou, nie.

11. Die man het die vrou nodig en die vrou die man.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 11