Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 10:7-16 Die Boodskap (DB)

7. Los die afgode uit. Die verhaal is mos neergeskryf: “Die volk het lekker gesit en feesvier, maar toe het hulle sulke vieslike dinge begin doen wat op geen manier by ’n kind van God pas nie.”

8. Ons moet oppas om ons nie so sleg te gedra soos party van hulle by daardie fees gedoen het nie. Kyk wat het met hulle gebeur: God het 23 000 van hulle op een dag laat doodgaan.

9. Ons moet nie kyk hoe ver ons Christus kan tart voordat Hy sy geduld met ons verloor nie, soos sekere van ons voorouers gedoen het. Ons weet wat het toe met hulle gebeur: hulle is deur slange doodgebyt.

10. Moet ook nie waag om te sê dat God ’n fout gemaak het nie, soos party van hulle gedoen het. God het die engel wat net verwoesting agterlaat na hulle toe gestuur, en nou is hulle dood.

11. God het hulle ’n voorbeeld vir ons gemaak. Ons kan dus nie sê dat ons nie gewaarsku is nie. Dit staan lewensgroot in die Skrif geskryf vir ons wat in die tyd leef net voor die Here weer kom. In dié tyd sal dit nie met die Christene net goed gaan nie.

12. Wees daarom geestelik wakker. As jy gerus begin word en dink dat niks jou geestelik van stryk kan bring nie, val jy miskien juis in die kloue van versoekings en sonde. Nou praat ek nie van buitengewone versoekings nie.

13. Die versoekings wat oor julle kom, is dieselfde as wat enige ander mens teëkom. God sal julle nie in die steek laat nie, maar doen wat Hy gesê het. Hy het mos gesê dat Hy nie dinge met jou sal laat gebeur wat jou as Christen van balans af sal gooi nie. As daar dan dinge gebeur wat jou van God se pad wil afkry, sal God jou help om die regte besluit te neem en jou dan die krag gee om te doen wat jy besluit het.

14. Daarom, my liewe broers en susters, moet julle niks te doen hê met alles wat mense in die plek van die ware God aanbid nie.

15. Julle is mos slim genoeg om self te besluit of wat ek sê waar is of nie.

16. By die maaltyd van die Here sê ons mos altyd vir die Here baie dankie vir die beker. Is die beker waarvoor ons so dankie sê, nie juis vir ons ’n bewys dat die bloed van Jesus ook vir ons bedoel is nie? En as ons die brood eet, is dit nie ’n bewys van wat Jesus se liggaam alles vir ons beteken nie? Ons elkeen kry ’n klein stukkie van die een groot stuk brood.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 10