Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 1:7-15 Die Boodskap (DB)

7. Ja-nee, julle het niks nodig nie, want God sorg dat julle kry wat julle op geestelike gebied nodig het. Julle sien ook opgewonde daarna uit dat ons Here Jesus Christus weer na ons toe kom sodat almal Hom kan sien. Niemand sal dan ’n enkele skewe woord teen julle kan sê nie. Hy sal julle nie in die steek laat nie.

8. Hy sal julle enduit gee wat julle moet hê.

9. Julle kan God vertrou, want Hy doen altyd wat Hy beloof. Hy self het julle uitgenooi om Jesus Christus, ons Here, se goeie vriende te word.

10. Kinders van die Here, werk asseblief tog saam. Namens ons Here Jesus Christus vra ek julle dit baie mooi, maar baie ernstig. Daar moet nie heeltyd ’n stryery onder julle wees nie. Julle moet met mekaar oor die weg kom. Moenie dwarstrek nie, maar dink en doen liewer soos een man saam.

11. Ek noem dit omdat van Chloë se familie hier by my aangekom en vertel het dat julle so onder mekaar baklei.

12. Laat ek dit so stel: een van julle sal sê: “Paulus is net die man.” Ander sal dan aan die stry gaan en sê dat Apollos of Petrus beter is. “Nee,” sal ander weer sê, “ons volg maar net vir Jesus.”

13. Nou vra ek: Is Christus dan so ’n los klomp stukke? Het ek, Paulus, miskien vir julle daar aan die kruis gehang? Is daar by julle doop miskien gesê dat julle gedoop word omdat Paulus so goed is?

14. Nou is ek eintlik bly dat ek nie te veel van julle gedoop het nie, maar net vir Krispus en Gaius.

15. Daarom kan niemand nou loop en spog dat hy deur my gedoop is asof dit iets besonders is nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 1