Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 7:14-25 Bybel vir Almal (ABA)

14. Die man se maat sê toe: “Dit beteken die Israeliet, Gideon seun van Joas, kom oorlog maak teen ons, en God sal hom laat wen teen die Midianiete en hierdie hele kamp.”

15. Toe Gideon hoor van die droom en wat dit beteken, het hy gebuig en hy het die Here geprys. Hy het teruggegaan na die kamp van die Israeliete, en gesê: “Kom, die Here sal julle laat wen teen die leër van die Midianiete.”

16. Gideon het die 300 manne verdeel in drie groepe, en hy het vir elke man ’n ramshoring en ’n leë kruik gegee. Daar was ’n fakkel in elke kruik.

17. Hy het vir hulle gesê: “Julle moet kyk wat ek doen en dan moet julle dieselfde doen.

18. Ek en almal by my sal die ramshorings blaas, en dan moet julle ook rondom die Midianiete se kamp julle ramshorings blaas en julle moet skree: ‘Vir die Here en vir Gideon.’ ”

19. Gideon en die 100 manne by hom het by die kamp aangekom toe die middel-wagbeurt begin het, net nadat die nuwe wagte op hulle plekke kom staan het. Toe Gideon en die manne by hom die ramshorings blaas en die kruike stukkend slaan,

20. het die ander groepe manne ook hulle ramshorings geblaas en hulle kruike stukkend geslaan. Hulle het die fakkels met die linker-hand vasgehou en met die regter-hand het hulle die ramshorings vasgehou waarop hulle geblaas het. Hulle het geskree: “Die Here en Gideon kom oorlog maak!”

21. Gideon se manne het rondom die kamp gestaan, elkeen op sy plek. Die mense in die kamp het opgespring en geskree en begin hardloop.

22. Toe die manne die 300 ramshorings blaas, het die Midianiete mekaar begin doodmaak. Die Here het hulle dit laat doen. Hulle het gevlug tot by die stad Bet-Sitta naby Serera en tot by die grens van die grond van die stad Abel-Megola by Tabbat.

23. Gideon het nog Israeliete laat roep uit die Naftali-stam en die Aser-stam en uit die hele Manasse-stam. Hulle het gekom en hulle het die Midianiete gevolg en gejaag.

24. Gideon het ook boodskappers gestuur na al die mense van die Efraim-stam in die berge. Hy het gevra hulle moet die Midianiete vang by al die plekke waar water is, tot by die stad Bet-Bara en die Jordaan-rivier. Hulle het gekom en hulle het dit gedoen.

25. Hulle het die twee generaals van die Midianiete gevang. Die generaals se name was Kraai en Wolf. Hulle het vir Kraai doodgemaak by Kraairots, en vir Wolf by die Wolf-parskuip. Nadat hulle klaar die Midianiete gevolg en gejaag het, het hulle Kraai en Wolf se koppe vir Gideon gebring anderkant die Jordaan-rivier.

Lees volledige hoofstuk Rigters 7