Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 21:15-25 Bybel vir Almal (ABA)

15. en die Israeliete was jammer oor die Benjamin-stam, want die Here het een stam weggevat uit die volk Israel.

16. Die leiers van die volksvergadering het vir mekaar gevra: “Wat kan ons doen sodat die Benjamin-mense wat oorgebly het, ook vroue kan kry? Want in die Benjamin-stam is daar nie vroue wat nog lewe nie.”

17. Hulle het gesê: “Die mense van Benjamin moet kinders kry, want daar mag nie ’n stam uit die volk Israel verdwyn nie.

18. Maar ons kan nie ons dogters met hulle laat trou nie, want ons het gesê ons vervloek elkeen wat vir ’n Benjamin-man ’n vrou gee, en die Here was die getuie.”

19. Maar toe sê die leiers: “Daar is elke jaar ’n fees van die Here in die stad Silo.”Silo is noord van die stad Bet-El, oos van die pad tussen Bet-El en die stad Sigem, en suid van die stad Lebona.

20. Die leiers het vir die Benjamin-mense gesê: “Julle moet in die wingerde gaan lê en wag,

21. en wanneer julle sien die meisies van Silo kom uit om te dans, dan moet julle uit die wingerde gaan en vir julle elkeen ’n vrou uit die meisies van Silo vang. Dan moet julle teruggaan na die land Benjamin.

22. En wanneer hulle pa’s of broers by ons kom kla, dan sal ons vir hulle sê: ‘Los dit asseblief, want ons het nie genoeg vroue vir hulle gekry toe ons teen Jabes-Gilead gaan oorlog maak het nie. Julle is nie skuldig nie, want julle het nie julle dogters vir hulle gegee nie.’ ”

23. Die Benjamin-mense het so gemaak. Toe die meisies kom dans het, het elke man vir hom ’n vrou gevat, en hulle het teruggegaan na hulle land. Hulle het die stede weer gebou en hulle het daar gaan woon.

24. Die Israeliete het daarna ook teruggegaan, elkeen na sy plek waar sy stam en sy familie gewoon het.

25. In daardie tyd was daar nie ’n koning in die land Israel nie. Elkeen het gedoen wat hy gedink het is reg.

Lees volledige hoofstuk Rigters 21