Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 19:3-17 Bybel vir Almal (ABA)

3. het haar man gereedgemaak en na haar toe gegaan. Hy wou vir haar sê hy is nog lief vir haar en hy wou vra dat sy moet terugkom. Hy het twee donkies saamgeneem, en sy slaaf was by hom. Sy byvrou het hom na haar pa se huis gebring, en toe haar pa die Leviet sien, was hy baie bly en hy het vir hom gesê hy is welkom.

4. Sy skoonpa, die pa van die byvrou, wou hom nie laat weggaan nie, en die Leviet het drie dae daar gebly en geëet en gedrink en by die huis geslaap.

5. Op die vierde dag het hy vroeg die oggend gereedgemaak om te gaan, maar die byvrou se pa het vir sy skoonseun gesê: “Jy moet eers eet en dan kan jy gaan.”

6. Die Leviet het daar gebly, en hulle twee het saam geëet en gedrink. Daarna het sy byvrou se pa vir hom gesê: “Asseblief, jy moenie gaan nie, slaap nog vannag hier en geniet dit.”

7. Die man het gereedgemaak om te gaan, maar sy skoonpa het aangehou, en toe het hy gebly en die nag daar geslaap.

8. Toe hy die vyfde dag vroeg die oggend gereedmaak om te gaan, sê sy byvrou se pa vir hom: “Jy moet eers eet.”Hulle het toe tot laat die dag daar gebly, en hy en sy skoonpa het saam geëet.

9. Daarna het hy gereedgemaak om te gaan, hy en sy byvrou en sy slaaf. Sy skoonpa het vir hom gesê: “Kyk, dit is al laat, dit is amper aand. Slaap nog vannag hier in jou tent en geniet dit, dan kan julle môre vroeg gereedmaak om terug te gaan huis toe.”

10. Maar hy wou nie weer daar slaap nie. Hy het gereedgemaak en gegaan en tot naby die stad Jebus gekom. Dit is Jerusalem. Hy het sy twee donkies by hom gehad, en sy byvrou was by hom.

11. Toe hulle naby Jebus kom, was dit al aand, en sy slaaf het vir hom gesê: “Kom ons gaan na hierdie stad van die Jebusiete en ons slaap daar.”

12. Maar hy het vir sy slaaf gesê: “Ons kan nie na ’n vreemde stad gaan wat nie aan Israeliete behoort nie. Kom ons gaan verder tot by die stad Gibea.”

13. Die Leviet het vir sy slaaf gesê: “Kom ons gaan nader na een van die plekke en gaan slaap in Gibea of in Rama.”

14. Hulle het verder gegaan, en toe hulle by Gibea kom, het die son ondergegaan. Gibea het behoort aan die Benjamin-stam.

15. Hulle het na Gibea gegaan om daar te slaap. Hulle het op die oop stuk grond aan die binnekant van die poort gaan sit, maar niemand het hulle genooi om by sy huis te slaap nie.

16. Maar toe kom daar ’n ou man van sy werk buite die stad. Hy het van die Efraim-berge gekom, en hy was ’n vreemdeling in Gibea, maar die mense van daardie plek was Benjamin-mense.

17. Toe die ou man sien daar is iemand wat net vir die nag daar op die oop stuk grond is, het hy vir hom gevra: “Waarnatoe gaan jy en van waar kom jy?”

Lees volledige hoofstuk Rigters 19