Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 18:5-17 Bybel vir Almal (ABA)

5. Hulle sê toe vir hom: “Vra asseblief wat God wil hê ons moet doen. Ons wil weet of dit goed sal gaan met ons waar ons gaan.”

6. Die priester het dit gedoen en vir hulle gesê: “Dit sal goed gaan met julle, die Here sal vir julle wys waarnatoe julle moet gaan.”

7. Die vyf mans het toe gegaan en hulle het by die stad Lajis gekom. Daar het hulle gesien die mense is oor niks bekommerd nie, hulle dink hulle woon veilig, soos die Sidon-mense altyd gedink het. Hulle het gedink ander mense sal hulle nie aanval nie en hulle het alles gehad wat hulle nodig gehad het. Hulle was ver van die stad Sidon, maar niemand het hulle probeer aanval en verdruk nie. Niemand het iets van hulle geweet nie.

8. Die vyf mans het toe teruggegaan na hulle mense in Sora en Estaol. Hulle mense het vir hulle gevra: “Wat het julle gesien?”

9. Die vyf mans het gesê: “Kom, ons moet gaan. Ons het ’n land gesien wat baie goed is. Maar julle moet gou maak. Julle moenie wag nie! Gaan dadelik en gaan vat daardie land.

10. Julle sal daar kom by mense wat dink ander mense sal hulle nie aanval nie. En die land is oop na al die kante toe. God wil vir julle ’n land gee waar daar genoeg is van alles.”

11. Daar het toe 600 mans van die Dan-families uit Sora en Estaol gegaan. Almal het wapens gehad om oorlog te maak.

12. Hulle het gegaan tot by die stad Kirjat-Jearim in die land Juda en hulle het daar hulle tente opgeslaan. Die mense noem daardie plek nou nog Dan-kamp. Dit is anderkant Kirjat-Jearim.

13. Van daar het die Dan-manne na die Efraim-berge gegaan en hulle het by Miga se huis gekom.

14. Die vyf mans wat gaan kyk het hoe die land by Lajis lyk, het vir hulle maats gesê: “Weet julle, in hierdie huis is ’n skouer-kleed en beeldjies en ’n beeld. Julle weet nou self wat julle moet doen.”

15. Hulle het toe na die jongman, die Leviet, se huis gegaan, langs die huis van Miga, en hulle het die jongman gegroet.

16. Die 600 Dan-manne het met hulle wapens voor die poort gaan staan,

17. en die vyf mans wat gaan kyk het waar hulle kan woon, het ingegaan en die skouer-kleed en die beeldjies en die beeld gevat. Die priester het ook voor die poort gaan staan waar die 600 manne was.

Lees volledige hoofstuk Rigters 18