Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 18:13-27 Bybel vir Almal (ABA)

13. Van daar het die Dan-manne na die Efraim-berge gegaan en hulle het by Miga se huis gekom.

14. Die vyf mans wat gaan kyk het hoe die land by Lajis lyk, het vir hulle maats gesê: “Weet julle, in hierdie huis is ’n skouer-kleed en beeldjies en ’n beeld. Julle weet nou self wat julle moet doen.”

15. Hulle het toe na die jongman, die Leviet, se huis gegaan, langs die huis van Miga, en hulle het die jongman gegroet.

16. Die 600 Dan-manne het met hulle wapens voor die poort gaan staan,

17. en die vyf mans wat gaan kyk het waar hulle kan woon, het ingegaan en die skouer-kleed en die beeldjies en die beeld gevat. Die priester het ook voor die poort gaan staan waar die 600 manne was.

18. Toe daardie mans uit die huis van Miga kom met die beeld en die skouer-kleed en die beeldjies wat hulle gevat het, het die priester vir hulle gesê: “Wat doen julle?”

19. Hulle het vir hom gesê: “Bly stil, jy moet niks sê nie. Kom saam met ons. Jy moet ons priester wees en vir ons leer. Dit is beter dat jy ’n priester is vir ’n hele stam van Israel, nie net vir een man nie.”

20. Die priester het gedink dit is goed en hy het die skouer-kleed en die beeldjies en die beeld gevat en saam met die mense gegaan.

21. Hulle het hulle kinders en oumense en hulle skape en bokke en hulle ander goed voor hulle laat gaan en hulle het verder gegaan.

22. Toe hulle ver weg was van Miga se huis, het Miga ander mense gevra om hom te help om die Dan-mense te volg en te jaag.

23. Toe hy by die Dan-mense kom, het hy vir hulle geskree. Die Dan-mense het omgekyk en gevra: “Wat is fout? Hoekom skree jy so?”

24. Miga het vir hulle gesê: “Julle het my gode gevat wat ek gemaak het, en ook my priester, en julle het weggeloop. Ek het nou niks, en nou vra julle vir my: ‘Wat is fout?’ ”

25. Die Dan-mense het vir Miga gesê: “Jy moenie hier by ons staan en skree nie. Party van ons is mense wat gou kwaad word. Hulle sal jou en jou mense doodmaak.”

26. Toe gaan die Dan-mense verder. Miga was bang, want hulle was meer en sterker as hy en sy mense. Hy het omgedraai en in sy huis gaan bly.

27. Die Dan-mense het Miga se beelde en sy priester saamgevat en hulle het by die stad Lajis gekom. Die mense daar het gedink niemand sal hulle aanval nie, maar die Dan-mense het hulle doodgemaak en hulle het die stad verbrand.

Lees volledige hoofstuk Rigters 18