Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 14:1-7 Bybel vir Almal (ABA)

1. Eendag het Simson na die stad Timna gegaan en daar het hy ’n vrou gesien. Sy was ’n Filistynse meisie.

2. Toe hy terugkom, het hy vir sy ouers vertel van haar. Hy het gesê: “Ek het in Timna ’n vrou gesien, ’n Filistynse meisie. Nou wil ek hê julle moet met haar ouers gaan praat, want ek wil met haar trou.”

3. Simson se pa en ma het vir hom gesê: “Is daar nie by jou eie mense en in ons hele volk ’n vrou vir jou nie? Hoekom wil jy ’n vrou gaan haal by die Filistyne? Hulle is nie die Here se mense nie.”Maar Simson het vir sy pa gesê: “Sy is die vrou wat julle vir my moet kry, want ek hou van haar.”

4. Dit is die Here wat dit laat gebeur het, maar Simson se ouers het dit nie geweet nie. Die Here wou die Filistyne straf. Hulle het in daardie tyd oor die Israeliete regeer.

5. Simson en sy ouers het na Timna gegaan, en toe hulle by die wingerde van Timna kom, was daar ’n leeu wat gebrul het en wat vir Simson wou vang.

6. Maar die Gees van die Here het vir Simson sterk gemaak, en Simson het die leeu met sy kaal hande doodgemaak, so maklik soos ’n mens ’n bokkie doodmaak. Hy het nie vir sy ouers daarvan vertel nie.

7. Simson het met die vrou gaan praat, en hy het van haar gehou.

Lees volledige hoofstuk Rigters 14