Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 11:23-38 Bybel vir Almal (ABA)

23. Verstaan jy? Dit is die Here, die God van Israel, wat die Amoriete oorwin en weggejaag het voor sy volk, die Israeliete. Hoekom wil jy nou die Israeliete wegjaag?

24. Jy kan alles vat wat jou god Kemos vir jou gee, en ons sal vat wat ons God die Here vir ons gee.

25. Jy is nie beter as Balak seun van Sippor nie, Balak die koning van die Moabiete. Hy het nie die Israeliete beskuldig nie en hy het nie oorlog gemaak teen hulle nie.

26. Die Israeliete woon 300 jaar lank in die stad Gesbon en die klein dorpies daar naby, in die stad Aroër en die klein dorpies daar naby, en in al die stede langs die Arnon-rivier. Hoekom het julle nie in daardie tyd die stede en die plekke probeer terugvat nie?

27. Dit is nie óns wat verkeerd gedoen het teen julle nie, dit is júlle wat verkeerd gedoen het teen ons, júlle het begin oorlog maak teen ons. Ek weet die Here sal vandag sê wie het reg gedoen, ons of julle.”

28. Die koning van die Ammoniete wou nie doen wat Jefta vir hom gevra het nie.

29. Toe het die Gees van die Here in Jefta gekom, en Jefta het deur Gilead en Manasse gegaan tot by die stad Mispa in Gilead, en van daar het hy na die Ammoniete toe gegaan.

30. Jefta het vir die Here belowe en gesê: “As U my laat wen teen die Ammoniete, en ek lewe nog en ek kom terug by my huis,

31. dan sal die eerste persoon wat by my huis se deur uitkom, aan U behoort. Ek sal hom vir U gee, en hy sal my brand-offer wees.”

32. Daarna het Jefta na die Ammoniete toe gegaan om oorlog te maak teen hulle, en die Here het hom laat wen teen die Ammoniete.

33. Jefta het die Ammoniete oorwin, dit was 20 stede van Aroër tot by Minnit en tot by Abel-Keramim. Jefta het ver gewen. Die Israeliete het die Ammoniete verneder.

34. Toe Jefta terugkom by sy huis in Mispa, was dit sy eie dogter wat eerste uitgekom het om hom te ontmoet. Sy het ’n tamboeryn gespeel en gedans. Hierdie dogter was sy enigste kind.

35. En toe Jefta haar sien, het hy sy klere geskeur en hy het gesê: “My kind, ek is baie hartseer. Jy het ’n slegte ding met my laat gebeur, want ek het vir die Here belowe dat die eerste persoon wat by my huis se deur uitkom om my te ontmoet, aan Hom sal behoort, en nou moet ek doen wat ek belowe het.”

36. Sy dogter het vir hom gesê: “Pa, jy het belowe om my vir die Here te gee, en die Here het jou gehelp om jou vyande, die Ammoniete, te straf. Nou moet jy met my doen wat jy belowe het.”

37. Sy het ook vir haar pa gesê: “Ek vra net een ding: Los my twee maande lank sodat ek en my vriendinne na die berge kan gaan. Ons wil daar gaan huil omdat ek moet sterf, ek wat ’n jongmeisie is.”

38. Jefta het vir haar gesê: “Goed, jy mag gaan.”Hy het haar laat gaan vir die twee maande, en sy en haar vriendinne het in die berge gaan huil omdat sy moes sterf, sy wat ’n jongmeisie was.

Lees volledige hoofstuk Rigters 11