Ou Testament

Nuwe Testament

Prediker 8:1-12 Bybel vir Almal (ABA)

1. Wie het so baie wysheid dat hy kan sê wat alles beteken? Niemand. Wanneer ’n mens wysheid het, dan is hy vriendelik, wysheid laat hom sag word.

2. Ek sê vir jou: Jy moet doen wat die koning sê, want jy het vir God belowe om gehoorsaam te wees aan die koning.

3. Jy moenie haastig wees en sê ’n verkeerde ding is reg nie, dit is beter dat jy weggaan van die koning, want die koning doen altyd wat hy wil.

4. Die koning is die hoof, almal moet doen wat hy sê. Niemand kan vir hom vra hoekom hy iets doen nie.

5. As jy doen wat die koning sê, dan sal dit nie sleg gaan met jou nie. As jy wysheid het, dan sal jy weet wat is reg en jy sal weet wanneer jy iets mag doen.

6. Ja, daar is ’n regte tyd om elke ding te doen en daar is ’n regte manier om dit te doen. Die slegte dinge wat met ’n mens gebeur, pla hom die meeste,

7. want niemand weet wat later sal gebeur nie, daar is niemand wat vir ’n mens kan sê hoe dit later sal wees nie.

8. Niemand kan die wind laat ophou waai nie, niemand kan besluit wanneer hy moet sterf nie en niemand kan vry wegkom uit ’n oorlog nie. As iemand verkeerd doen, dan sal dít wat hy doen, ook nie vir hom red nie.

9. Ek het dit alles gesien en ek het alles probeer verstaan wat mense in hierdie wêreld doen, in hierdie tyd wanneer mense oor ander mense regeer en hulle laat swaarkry.

10. Ek het ook gesien dat mense wat verkeerd doen, sterf en begrawe word, hulle is weg vir altyd, mense vergeet dat hulle daar was. Maar die mense van ’n stad dink ook nie meer aan iemand wat van die tempel kom en reg gedoen het nie. Ook dít is nie soos dit moet wees nie.

11. Wanneer mense verkeerd gedoen het, en jy straf hulle nie dadelik nie, dan sal hulle aanhou om verkeerd te doen,

12. want ’n sondaar kan 100 maal verkeerd doen en nog lank lewe. Maar dít weet ek ook: Dit sal goed gaan met die mense wat vir God respekteer en Hom dien,

Lees volledige hoofstuk Prediker 8