Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 8:2-16 Bybel vir Almal (ABA)

2. “Jy moet met Aäron praat en vir hom sê wanneer hy die lampe op die lampstaander sit, dan moet die sewe lampe vorentoe skyn.”

3. Aäron het dit gedoen. Hy het die sewe lampe teen die voorkant van die lampstaander gesit soos die Here vir Moses gesê het.

4. Hulle het die lampstaander gemaak van goud wat hulle met ’n hamer geslaan het. Die steel en die blomknoppe van die lampe was van goud. Moses het die lampstaander laat maak soos die Here vir hom gewys het.

5. Die Here het vir Moses gesê:

6. “Jy moet die Leviete wat tussen die Israeliete is, wegneem en jy moet hulle reinig.

7. Dit is hoe jy hulle moet reinig: Jy moet reinigingswater oor hulle spat, en hulle moet al die hare op hulle hele liggaam afskeer en hulle klere was en hulleself reinig.

8. Dan moet hulle ’n jong bul neem saam met die koring-offer van die beste meel wat hulle met olyf-olie meng, en jy moet nog ’n jong bul neem om ’n sonde-offer te wees.

9. Jy moet die Leviete laat nader kom voor die tent waar Ek aan die Israeliete verskyn, en jy moet die hele volksvergadering van die Israeliete laat bymekaarkom.

10. Wanneer jy die Leviete laat nader kom voor My, dan moet die Israeliete hulle hande op die Leviete sit,

11. en Aäron moet die Leviete heen en weer laat beweeg voor My om ’n beweeg-offer te wees, sodat hulle die werk vir My kan doen.

12. Die Leviete moet dan hulle hande sit op die koppe van die bulle, en Aäron moet die bulle vir My offer, die een bul is ’n sonde-offer en die ander bul is ’n brand-offer. Hierdie offers is om versoening te doen vir die Leviete.

13. Jy moet vir die Leviete sê hulle moet vir Aäron en sy seuns werk, en jy moet hulle heen en weer laat beweeg om ’n beweeg-offer vir My te wees.

14. So moet jy die Leviete wegneem van die ander Israeliete, die Leviete moet aan My behoort.

15. Wanneer jy die Leviete gereinig het en hulle heen en weer laat beweeg het om ’n beweeg-offer te wees, dan mag hulle gaan werk in die tent waar Ek aan die Israeliete verskyn,

16. want die Leviete behoort aan My, die Israeliete het hulle vir My gegee in die plek van al die eerste seuns van die Israeliete. Ek het die Leviete vir My geneem.

Lees volledige hoofstuk Numeri 8