Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 4:12-29 Bybel vir Almal (ABA)

12. Daarna moet hulle al die gereedskap neem wat hulle in die tempel-tent gebruik en hulle moet dit in ’n blou lap sit en dit toemaak met ’n vel-seil en dit op dra-pale sit.

13. Hulle moet die as van die altaar afvee en ’n pers lap oor die altaar gooi.

14. Dan moet hulle al die gereedskap wat hulle by die altaar gebruik, daarop sit: die emmers, die vurke, die grawe en die bakke, al die gereedskap van die altaar, en hulle moet dit toemaak met ’n vel-seil. Dan moet hulle die altaar se dra-houte in die ringe sit.

15. Wanneer die mense moet weggaan uit die kamp, dan moet Aäron en sy seuns eers die tempel-tent en al sy gereedskap toemaak. Wanneer hulle dit klaar gedoen het, dan kan die Kehat-familie dit kom dra. Hulle mag nie aan die gewyde dinge raak nie. As hulle dit doen, dan sal hulle sterf. Die Kehat-familie se werk is om die tent te dra waar die Here aan die Israeliete verskyn.

16. “Eleasar seun van die priester Aäron, moet sorg dat daar olyf-olie vir die lampe is, en ook wierook, koring-offers vir elke dag, en salf-olie. Hy moet kyk dat almal reg werk in die tempel-tent en dat hulle die gereedskap reg gebruik.”

17. Die Here het vir Moses en Aäron gesê:

18-20. “Aäron en sy seuns moet kom en hulle moet vir elkeen van die Kehat-familie sê wat hy moet doen en wat hy moet dra. Die mense van die Kehat-familie moenie kyk na die hoog-gewyde dinge nie, hulle moet glad nie kyk nie. Want as een van hulle dit doen, dan sal hy sterf, en julle moenie dat die Kehat-familie sterf en ophou lewe tussen die Leviete nie. Julle moet dit vir hulle sê sodat hulle kan aanhou lewe.”

21. Die Here het vir Moses gesê:

22. “Jy moet die Gerson-familie ook tel, jy moet skryf aan watter familie elkeen behoort en van wie se nageslag hy is.

23. Jy moet almal tel wat tussen 30 en 50 jaar oud is, almal wat kan werk. Hulle moet werk met die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn.

24. Hierdie is die dinge wat die Gerson-familie moet doen en wat hulle moet dra:

25. Hulle moet die stukke materiaal van die tempel-tent dra, die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn, en die seil en die vel-seil wat daaroor is, en die gordyn by die ingang van die tent,

26. en die gordyne om die oop stuk grond, en die gordyn by die ingang van die poort van die oop stuk grond rondom die tempel-tent en die altaar, en die toue en al die ander goed wat daarby moet wees. Die Gerson-familie moet alles doen wat nodig is by die altaar.

27. Hulle moet alles doen wat Aäron en sy seuns vir hulle sê. Hulle moet die goed dra en die werk doen wat hulle moet doen.

28. Dit is die werk van die Gerson-familie by die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Itamar seun van die priester Aäron moet kyk dat hulle die werk doen.”

29. “Jy moet die Merari-familie ook tel, jy moet opskryf van wie se nageslag elkeen is en aan watter familie hy behoort.

Lees volledige hoofstuk Numeri 4