Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 35:6-22 Bybel vir Almal (ABA)

6. Ses van die stede wat julle vir die Leviete gee, moet asielstede wees. Iemand kan daarnatoe vlug wanneer hy iemand anders doodgemaak het. Saam met hierdie stede moet julle nog 42 ander stede vir hulle gee.

7. Julle moet vir die Leviete altesaam 48 stede gee saam met hulle weivelde.

8. ’n Groot stam moet meer stede vir die Leviete gee en ’n kleiner stam moet minder stede vir hulle gee.”

9. Die Here het vir Moses gesê:

10. “Jy moet met die Israeliete praat en vir hulle sê: Wanneer julle oor die Jordaan-rivier gaan na die land Kanaän,

11. dan moet julle stede kies wat vir julle asielstede kan wees. Iemand kan daarnatoe vlug wanneer hy ’n ander mens per ongeluk doodgemaak het.

12. Die stede moet asielstede wees vir julle. Die naaste familielid van die persoon wat gesterf het, mag nie in die asielstad die moordenaar doodmaak wat een van sy familie doodgemaak het nie. Die volksvergadering moet eers oor hom oordeel.

13. Julle moet ses stede gee wat asielstede kan wees vir julle.

14. Julle moet drie stede oorkant die Jordaan-rivier en drie stede in die land Kanaän gee om asielstede te wees.

15. Daardie ses stede moet asielstede wees vir die Israeliete en vir die vreemdelinge en ander mense by hulle wat nie Israeliete is nie. Elkeen wat iemand doodmaak maar wat dit per ongeluk gedoen het, moet daarnatoe kan vlug.

16. “Maar as hy iemand met ’n stuk yster doodgeslaan het, dan is hy ’n moordenaar, en ’n moordenaar moet sterf, dit is seker.

17. En as hy iemand met ’n gevaarlike klip geslaan het, en die persoon sterf, dan is hy ’n moordenaar, en ’n moordenaar moet sterf, dit is seker.

18. Of as hy iemand met ’n gevaarlike stuk hout geslaan het, en die persoon sterf, dan is hy ’n moordenaar, en ’n moordenaar moet sterf, dit is seker.

19. “Die persoon wat die moordenaar moet doodmaak, is die naaste familielid van die persoon wat dood is. Hy moet hom doodmaak waar hy hom kry.

20. “En ook wanneer iemand ’n ander persoon haat en hy stamp hom of hy wag vir hom en gooi hom dood met iets,

21. of wanneer iemand ’n vyand is van iemand anders en hy slaan die persoon dood, dan moet die persoon wat hom doodgeslaan het, ook sterf, dit is seker. Hy is ’n moordenaar, en die naaste familielid van die persoon wat gesterf het, moet die moordenaar doodmaak waar hy hom kry.

22. “Maar iemand is miskien nie ’n vyand van iemand anders nie, en hy stamp hom skielik of hy gooi hom per ongeluk raak met iets.

Lees volledige hoofstuk Numeri 35