Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 31:1-12 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Die Israeliete moet die Midianiete straf oor wat hulle gedoen het. Daarna sal jy sterf.”

3. Moses het vir die volk gesê: “Party van julle moet gereedmaak om oorlog te maak sodat julle die Midianiete kan aanval en kan straf soos die Here wil hê.

4. Julle moet 1 000 manne van elke stam stuur om oorlog te maak.”

5. Hulle het toe vir 1 000 manne van elke stam gesê om gereed te maak. Daar was 12 000 manne wat gereed was om oorlog te maak.

6. Moses het hulle gestuur om oorlog te gaan maak. Daar was 1 000 manne van elke stam. Pinehas seun van die priester Eleasar het saamgegaan. Hy het die gewyde dinge by hom gehad, en ook die trompette wat hulle moes blaas.

7. Die manne het oorlog gemaak teen die Midianiete, soos die Here vir Moses gesê het. Hulle het al die mans doodgemaak,

8. en ook die konings van Midian saam met die mans. Die vyf konings van Midian was Ewi, Rekem, Sur, Gur en Reba. Die Israeliete het ook vir Bileam seun van Beor doodgesteek.

9. Die Israeliete het die vroue van die Midianiete en hulle kinders gevang en saamgevat. Hulle het ook al hulle diere, al hulle skape en bokke en al hulle goed gevat.

10. Die Israeliete het al die stede waar die Midianiete gewoon het en al hulle kampe verbrand,

11. maar hulle het al die goed en alles wat hulle kon kry, mense en diere, saamgevat.

12. Hulle het die gevangenes en die goed wat hulle gevat het, na Moses en die priester Eleasar en na al die Israeliete toe gebring, hulle het dit gebring na die kamp wat in die Moab-vlakte naby die Jordaan-rivier oorkant die stad Jerigo was.

Lees volledige hoofstuk Numeri 31