Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 25:1-12 Bybel vir Almal (ABA)

1. Terwyl die Israeliete by die stad Sittim gewoon het, het hulle begin om seks te hê met die Moabitiese meisies.

2. Die meisies het die Israeliete uitgenooi na die offers vir hulle gode, en die Israeliete het saam met hulle geëet en gebuig vir die gode van die Moabitiese meisies.

3. Die Here het kwaad geword vir die Israeliete toe hulle vir Baäl-Peor begin dien,

4. en Hy het vir Moses gesê: “Jy moet al die leiers van die mense vat en jy moet hulle voor die tempel-tent in die son ophang, dan sal Ek weer goed word vir die Israeliete.”

5. Moses het vir die regters van Israel gesê: “Elkeen van julle moet sy eie manne doodmaak wat vir Baäl-Peor begin dien het.”

6. Daar het een van die Israelitiese mans gekom en hy het ’n Midianitiese vrou saamgebring na sy familie toe. Moses en die hele volk het dit gesien en hulle het gestaan en huil by die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn.

7. Toe Pinehas seun van Eleasar seun van die priester Aäron sien wat die man doen, het hy opgestaan tussen die ander Israeliete en hy het ’n spies in sy hand geneem.

8. Hy het die man gevolg tot by die vroue se tent. Hy het die spies deur altwee gesteek, deur die Israelitiese man en deur die maag van die vrou. Daarna het die Here opgehou om die Israeliete te straf, hulle het nie meer gesterf nie.

9. Maar daar was 24 000 Israeliete wat gesterf het.

10. Die Here het vir Moses gesê:

11. “Pinehas seun van Eleasar seun van die priester Aäron het daardie man en vrou doodgemaak, nou is Ek nie meer kwaad vir die Israeliete nie. Ek was kwaad omdat hulle ontrou was, en Pinehas was ook kwaad daaroor, soos Ek. Dit is nou nie meer nodig dat Ek self kwaad bly en hulle almal doodmaak omdat hulle ontrou was nie.

12. Daarom moet jy vir Pinehas sê dat Ek ’n verbond maak met hom, en dit sal goed gaan met hom.

Lees volledige hoofstuk Numeri 25