Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 22:1-9 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die Israeliete het verder gegaan en hulle het hulle tente opgeslaan in die Moab-vlakte anderkant die Jordaan-rivier by die stad Jerigo.

2. Balak seun van Sippor het gehoor wat die Israeliete alles gedoen het met die Amoriete.

3. Die Moabiete het baie bang geword vir die Israeliete, want daar was baie Israeliete. Die Moabiete was bang vir die Israeliete

4. en hulle het vir die leiers van die Midianiete gesê: “Hierdie klomp mense sal alles rondom ons op-eet soos ’n bees die groen gras in die veld opvreet.”Balak seun van Sippor was in daardie tyd koning van die Moabiete.

5. Hy het boodskappers gestuur en vir Bileam seun van Beor laat roep in die stad Petor, in die land Ammau naby die Eufraat-rivier. Hy het gesê die boodskappers moet vir Bileam sê: “Hier het ’n volk uit die land Egipte gekom. Hulle is baie, hulle is oral in die hele land en hulle woon nou hier naby ons.

6. Jy moet asseblief kom en jy moet hulle vervloek, want hulle is te sterk vir ons. Miskien sal ons hulle dan kan oorwin en hulle uit die land jaag. Ek weet dat wanneer jy iemand seën, dan gaan dit goed met hom, en wanneer jy iemand vervloek, dan gaan dit sleg met hom.”

7. Die leiers van die Moabiete en die Midianiete het gegaan en hulle het die beloning saamgeneem wat waarsêers moet kry. Toe hulle by Bileam kom, het hulle vir hom gesê wat Balak gesê het.

8. Bileam het vir hulle gesê: “Julle moet vannag hier slaap, dan sal ek môre vir julle sê wat die Here vir my sê.”Die amptenare van Moab het toe daar by Bileam gebly.

9. God het na Bileam toe gekom en vir hom gevra: “Wie is hierdie mans by jou?”

Lees volledige hoofstuk Numeri 22