Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 18:17-32 Bybel vir Almal (ABA)

17. Jy moenie die eerste bees-kalf of skaap-lam of bok-lam loskoop nie. Hulle is gewyd. Jy moet hulle bloed teen die altaar uitgooi en jy moet hulle vet verbrand. Dit is ’n vuur-offer wat lekker ruik vir die Here.

18. Maar die vleis van die diere moet joune wees, en die bors van die beweeg-offer en die boud is ook joune.

19. Ek het vir jou en jou seuns en jou dogters al die gewyde presente gegee wat die Israeliete vir My bring. Julle sal dit altyd kry. Dit belowe Ek, jy en jou nageslag sal dit altyd kry.”

20. Die Here het ook vir Aäron gesê: “Jy kry nie in die land van die Israeliete grond waar julle kan woon nie, jou stam kry nie grond tussen die ander stamme nie. Ek self sal aan julle behoort, julle sal vir My hê.

21. Luister, Ek gee vir die Levi-stam al die tiendes wat die Israeliete bring. Die Levi-stam kry dit vir die werk wat hulle moet doen, die werk by die tent waar Ek aan die Israeliete verskyn.

22. Die ander Israeliete mag nou nie meer naby die tent kom waar Ek aan hulle verskyn nie. As een van hulle dit doen, dan doen hy verkeerd en dan moet hy sterf.

23. Die Leviete moet die werk by die tent doen, en wanneer hulle verkeerd doen, dan sal Ek hulle straf. Dit sal altyd so wees, vir julle en vir julle nageslag. Maar hulle kry nie grond tussen die ander stamme nie.

24. Die Leviete kry die tiendes wat die Israeliete vir My gee, dit is hulle s’n. Dit is hoekom Ek vir die Leviete gesê het dat hulle nie grond kry tussen die ander stamme nie.”

25. Die Here het vir Moses gesê:

26. “Jy moet vir die Leviete sê: Julle sal van die Israeliete die tiendes kry wat Ek vir julle gegee het, dit behoort aan julle. Wanneer julle dit kry, dan moet julle ’n tiende daarvan vir My gee.

27. Dit moet julle offers vir My wees, dit is dieselfde soos wanneer julle koring van die dorsvloer en wyn uit die parskuip gekry het en gegee het.

28. So sal ook júlle vir My offers bring, julle sal dit gee van al die tiendes wat julle van die Israeliete kry. En die offers wat julle vir My moet bring, moet julle vir die priester Aäron gee.

29. Julle moet van alles wat julle kry, elke maal vir My die deel gee wat Ek moet kry. Julle moet die beste deel daarvan aan My wy.

30. “Jy moet ook vir hulle sê: Wanneer julle die beste deel gewy het, dan is die deel wat oorbly vir die Leviete soos die koring wat hulle van die dorsvloer moet kry, en soos die wyn wat hulle uit die parskuip moet kry.

31. Julle en julle huisgesinne mag julle deel van die tiendes eet op enige plek, want dit is julle beloning vir die werk wat julle doen in die tent waar Ek aan die Israeliete verskyn.

32. Wanneer julle die beste deel vir My gegee het, dan doen julle nie verkeerd wanneer julle die deel eet wat julle moet kry nie. Maar julle moenie die gewyde dinge wat die Israeliete offer, ontwy nie. As julle dit doen, dan sal julle sterf.”

Lees volledige hoofstuk Numeri 18