Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 16:37-50 Bybel vir Almal (ABA)

37. “Sê vir die priester Eleasar seun van Aäron hy moet die panne optel en die kole weggooi, want

38. die panne van hierdie sondaars wat gesterf het, is nou gewyd. Julle moet die panne plat slaan en die plate teen die altaar vasmaak. Die manne het die panne naby die altaar gebring, daarom is die panne gewyd, en die plate moet vir die Israeliete ’n teken wees.”

39. Die priester Eleasar het toe die brons panne geneem en hy het hulle plat geslaan en die plate teen die altaar vasgemaak.

40. Wanneer die Israeliete die plate sien, dan moes hulle onthou dat net iemand van die nageslag van Aäron by die altaar mag kom om wierook te brand. As iemand anders daar wierook brand, dan sal dieselfde met daardie persoon gebeur wat met Korag en sy vriende gebeur het. Die Here het vir Moses gesê hy moet dit vir die Israeliete sê.

41. Die volgende dag het die hele volksvergadering van die Israeliete vir Moses en Aäron beskuldig. Hulle het gesê: “Julle het die volk van die Here doodgemaak!”

42. Die Israeliete het opstandig geword teen Moses en Aäron, maar toe hulle kyk na die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn, toe was die wolk oor die tent en toe sien hulle die lig wat om die Here, die Koning, is.

43. Toe Moses en Aäron by die tent kom,

44. het die Here vir Moses gesê:

45. “Julle moet weggaan van die volksvergadering, Ek wil hulle nou dadelik laat sterf.”Moses en Aäron het gaan lê met hulle gesigte teen die grond.

46. Toe sê Moses vir Aäron: “Neem ’n pan en sit daarin van die kole wat op die altaar is. Sit dan wierook bo-op en gaan gou na die volksvergadering toe en doen versoening vir hulle. Die Here is baie kwaad, en daar is mense wat begin sterf.”

47. Aäron het gedoen wat Moses gesê het. Die mense het begin sterf, maar Aäron het tussen hulle ingehardloop en hy het die wierook gebrand en versoening gedoen vir hulle.

48. Terwyl hy daar staan tussen die mense wat gesterf het en die mense wat nog gelewe het, het daar nie meer mense gesterf nie.

49. Daar was 14 700 mense wat gesterf het. Korag en sy vriende het ook gesterf.

50. Aäron het teruggegaan na Moses by die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Daar het nie nog mense gesterf nie.

Lees volledige hoofstuk Numeri 16