Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 16:14-34 Bybel vir Almal (ABA)

14. Jy het ons nie na ’n vrugbare land geneem en vir ons koringlande en wingerde gegee wat aan ons kan behoort nie. Wil jy aanhou om hierdie manne te bedrieg? Ons sal nie kom nie.”

15. Moses het baie kwaad geword. Hy het vir die Here gesê: “U moenie die offers neem wat hulle vir U wil gee nie. Ek het niks van hulle gevat nie en ek het niks verkeerd gedoen aan hulle nie.”

16. Toe sê Moses vir Korag: “Môre moet jy en al jou vriende voor die Here kom staan, jy en hulle en Aäron.

17. Elkeen van julle moet ’n pan neem en wierook daarin sit en hy moet dit vir die Here bring. Elkeen moet sy eie pan hê, daar moet 250 panne wees, en jy en Aäron moet ook elkeen ’n pan hê.”

18. Die volgende oggend het elkeen toe sy pan geneem, en kole daarin gesit en wierook bo-op. Hulle het by die ingang van die tent gaan staan waar die Here aan die Israeliete verskyn. Moses en Aäron het ook daar gestaan.

19. Korag het die hele volksvergadering bymekaargeroep by die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Hy het die volksvergadering opstandig gemaak teen Moses en Aäron. Maar toe sien die hele volksvergadering die lig wat om die Here, die Koning is.

20. En toe sê die Here vir Moses en Aäron:

21. “Julle moet weggaan van hierdie volk, Ek wil hulle dadelik laat sterf.”

22. Maar Moses en Aäron het gaan lê met hulle gesigte teen die grond en hulle het gesê: “O God, U gee vir almal die lewe. Net een persoon het sonde gedoen, hoekom is U nou kwaad vir die hele volk?”

23. Die Here sê toe vir Moses:

24. “Sê vir die volk hulle moet weggaan van Korag, Datan en Abiram se tente.”

25. Moses het opgestaan en hy het na Datan en Abiram toe gegaan, en die leiers van Israel het saam met hom gegaan.

26. Moses het vir die volk gesê: “Asseblief, gaan weg van die tente van hierdie slegte mense en moenie aan iets raak wat aan hulle behoort nie, sodat julle nie verdwyn omdat hulle sonde gedoen het nie.”

27. Die volk het toe weggegaan van die tente van Korag, Datan en Abiram. Datan en Abiram het uitgekom en hulle het by die ingange van hulle tente gaan staan saam met hulle vroue en hulle kinders en hulle ander mense.

28. Toe sê Moses: “Julle sal nou weet dat die Here my gestuur het om al hierdie dinge te doen, julle sal weet dat ek nie self besluit het om dit te doen nie.

29. As hierdie mense sterf soos mense gewoonlik sterf, as dieselfde met hulle gebeur wat met al die mense gebeur, dan het die Here my nie gestuur nie.

30. Maar as die Here iets anders laat gebeur, en as die aarde sy mond oopmaak en hy sluk hulle in saam met alles wat aan hulle behoort, en as hulle lewendig afgaan na die doderyk, dan moet julle weet dat hierdie mense gewys het dat die Here nie vir hulle belangrik is nie.”

31. Nadat Moses dit gesê het, het die grond onder daardie mense oopgeskeur.

32. Die aarde het sy mond oopgemaak en dit het hulle huisgesinne ingesluk, elkeen wat saam met Korag was, en alles wat aan hulle behoort het.

33. Hulle en almal wat aan hulle behoort het, het lewendig afgegaan na die doderyk. Die aarde het hulle toegemaak. Hulle het verdwyn uit die volk.

34. Al die Israeliete naby hulle het gevlug toe hulle hoor hoe skree die mense. Die Israeliete was bang dat die aarde hulle ook sal insluk.

Lees volledige hoofstuk Numeri 16