Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 8:25-36 Bybel vir Almal (ABA)

25. Hy het die vet geneem, die vetstert en al die vet aan die binnegoed en ook die punt van die lewer en die twee niere en die vet wat aan die niere is en die regter-boud.

26. Daar was ongesuurde brood in ’n mandjie by die altaar. Moses het een ongesuurde rondebrood uit die mandjie geneem, en ook een rondebrood met olyf-olie en een roosterkoek, en hy het dit by die vet en die regter-boud gesit.

27. Toe het hy alles op Aäron en sy seuns se hande gesit en hy het dit heen en weer voor die Here beweeg om ’n beweeg-offer te wees.

28. Toe het Moses dit by hulle geneem en hy het dit op die altaar verbrand saam met die brand-offer. Dit was ’n offer om die priesters te wy, dit was ’n vuur-offer, dit ruik lekker vir die Here.

29. Moses het die bors van die skaap-ram geneem en hy het dit heen en weer voor die Here beweeg om ’n beweeg-offer te wees. Die bors van die ram was die deel wat Moses kon kry, soos die Here vir hom gesê het.

30. Toe het Moses van die salf-olie geneem en van die bloed op die altaar, en hy het dit gespat op Aäron en sy seuns en op hulle klere. So het hy hulle en hulle klere gewy.

31. Moses het vir Aäron en sy seuns gesê: “Julle moet die vleis gaarmaak by die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn, en julle moet dit daar eet saam met die brood wat in die mandjie is. Die Here het vir my gesê dat Aäron en sy seuns dit moet eet.

32. Julle moet die vleis en brood wat oorbly, verbrand.

33. Julle mag sewe dae lank nie weggaan van die ingang van die tent nie. Julle moet daar bly totdat die tyd verby is om julle te wy, want om julle te wy, hou sewe dae lank aan.

34. Die Here het gesê ons moet hierdie dinge doen soos ons dit vandag gedoen het om vir julle versoening te doen.

35. Julle moet sewe dae lank elke dag en nag by die ingang van die tent bly en julle moet doen wat die Here gesê het, dan sal julle nie sterf nie.”

36. Aäron en sy seuns het alles gedoen wat die Here vir Moses gesê het om vir hulle te sê.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 8