Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 8:11-25 Bybel vir Almal (ABA)

11. Hy het van die salf-olie sewe maal teen die altaar gespat en hy het die altaar en al die gereedskap van die altaar en die was-skottel en sy voetstuk gesalf en gewy.

12. Toe het Moses van die salf-olie op Aäron se kop gegooi en hy het Aäron gesalf en gewy.

13. Daarna het Moses die seuns van Aäron laat nader kom en hy het vir hulle die rokke aangetrek en die skouer-serpe omgesit en die kopdoeke om hulle koppe gebind, soos die Here vir Moses gesê het.

14. Toe het Moses die bul nader gebring wat die sonde-offer moet wees. Aäron en sy seuns het hulle hande op die bul se kop gesit.

15. Moses het die bul geslag. Hy het die bloed geneem en hy het van die bloed met sy vinger aan die horings van die altaar gesmeer. Hy het die altaar gereinig. Hy het toe die bloed wat oorgebly het, onder teen die altaar uitgegooi en so het hy dit gewy en versoening gedoen vir die altaar.

16. Moses het al die vet geneem wat om die binnegoed was en ook die punt van die lewer en die twee niere en die vet aan die niere en hy het dit op die altaar verbrand.

17. Hy het die vel en vleis van die bul en die pensmis buite die kamp verbrand, soos die Here vir hom gesê het.

18. Daarna het Moses die skaap-ram nader gebring wat ’n brand-offer moes wees, en Aäron en sy seuns het hulle hande op die ram se kop gesit.

19. Toe het Moses die ram geslag en hy het die bloed rondom teen die altaar gespat.

20. Hy het die ram in stukke gesny en hy het die kop en die stukke vleis en die vet verbrand.

21. Hy het die binnegoed en die pote gewas en hy het dit ook verbrand. Hy het die hele ram op die altaar verbrand. Dit was ’n brand-offer, ’n vuur-offer, soos die Here vir Moses gesê het. Dit ruik lekker vir die Here.

22. Moses het die ander skaap-ram nader gebring, dit was die ram om die priesters te wy. Aäron en sy seuns het hulle hande op die ram se kop gesit.

23. Moses het die ram geslag en hy het van die bloed gesmeer aan Aäron se regter-oor, sy regter-duim en sy regter-groottoon.

24. Toe het hy die seuns van Aäron laat nader kom en hy het ook aan hulle regter-ore, regter-duime en regter-groottone bloed gesmeer. Daarna het hy die ander bloed teen die altaar gespat, hy het dit oral rondom die altaar gespat.

25. Hy het die vet geneem, die vetstert en al die vet aan die binnegoed en ook die punt van die lewer en die twee niere en die vet wat aan die niere is en die regter-boud.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 8