Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 15:1-17 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die Here het vir Moses en Aäron gesê:

2. “Julle moet vir die Israeliete sê: Wanneer daar iets nat kom uit ’n man se geslagsorgaan, dan maak dit hom onrein.

3. Die man is onrein wanneer daar iets nat uit sy geslagsorgaan kom, wanneer dit aanhou uitloop én wanneer dit partymaal stop.

4. ’n Bed waarop hierdie man slaap en ’n ding waarop hy sit, word ook onrein.

5. Iemand wat aan die bed raak, moet sy klere was en hy moet homself bad. Hy is onrein tot die aand.

6. Iemand wat sit op iets waarop daardie man gesit het, moet sy klere was en hy moet homself bad. Hy is onrein tot die aand.

7. Wanneer iemand aan daardie man raak, dan moet hy sy klere was en hy moet homself bad. Hy is onrein tot die aand.

8. Wanneer daardie man op ’n rein persoon spoeg, dan moet die persoon sy klere was en hy moet homself bad. Hy is onrein tot die aand.

9. As daardie man op enige iets ry, dan word dit onrein.

10. Elke persoon wat raak aan iets waarop daardie man gesit het, moet sy klere was en hy moet homself bad. Hy is onrein tot die aand.

11. As daardie persoon nie sy hande afgespoel het nie en hy raak aan ’n ander persoon, dan moet die ander persoon sy klere was en hy moet homself bad. Hy is onrein tot die aand.

12. Julle moet ’n kleipot breek as daardie man aan die kleipot geraak het. As hy aan iets raak wat gemaak is van hout, dan moet julle dit was.

13. Wanneer daardie man gesond geword het, dan moet hy sewe dae wag. Daarna moet hy sy klere was en hy moet homself bad in vars water, dan sal hy rein wees.

14. Op die agste dag moet die man twee tortelduiwe of twee makduiwe neem en hy moet gaan na die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Hy moet die duiwe daar voor die Here vir die priester gee.

15. Die priester moet dan die duiwe offer, een duif om ’n sonde-offer te wees en een duif om ’n brand-offer te wees. So moet die priester vir die man versoening doen voor die Here.

16. “As daar saad gekom het uit ’n man se geslagsorgaan, dan moet hy homself bad. Hy is onrein tot die aand.

17. Hy moet die klere of vel was waarop die saad gekom het. Hy is onrein tot die aand.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 15