Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 8:4-15 Bybel vir Almal (ABA)

4. en vir hulle gesê: “Julle moet agter die stad gaan wegkruip, maar julle moenie ver van die stad wees nie en julle moet almal gereed wees.

5. Ek en die manne by my sal nader kom na die stad, en wanneer hulle soos voorheen weer kom om ons aan te val, dan sal ons wegvlug van hulle.

6. Hulle sal aanhou om na ons toe te kom totdat hulle ver van die stad is, want hulle sal dink ons vlug weg van hulle, soos voorheen.

7. Dan moet julle opstaan waar julle weggekruip het en julle moet die stad vat. Julle God die Here sal julle help om te oorwin.

8. Wanneer julle die stad gevat het, dan moet julle dit aan die brand steek. Die Here het gesê ons moet dit doen, en nou sê ek julle moet dit doen.”

9. Josua het die manne gestuur, en hulle het gaan wegkruip wes van Ai, tussen die stad Bet-El en Ai. Josua het daardie nag tussen die ander manne geslaap.

10. Hy het vroeg opgestaan en hy het die manne laat gereedmaak. Hy en die leiers van die Israeliete het voor die manne na Ai geloop.

11. Al die manne wat saam met Josua was, het nader gegaan en hulle het voor die stad gekom. Hulle het hulle tente opgeslaan noord van die stad. Daar was ’n vallei tussen hulle en die stad Ai.

12. Josua het omtrent 5 000 manne laat wegkruip tussen Bet-El en Ai, wes van Ai.

13. Josua en die leiers het gesê die manne moet op hulle plekke wees. Die groot kamp was noord van die stad en die ander manne was wes van die stad. Josua het daardie nag deur die vallei geloop.

14. En dadelik toe die koning van Ai die Israeliete sien, het die manne van die stad gereedgemaak en uitgegaan om die Israeliete aan te val. Die koning en sy manne het die Israeliete in die Jordaan-vallei gaan aanval. Hy het nie geweet dat party Israeliete agter die stad weggekruip het nie.

15. Dit het gelyk of Josua en al die Israeliete die oorlog verloor, hulle het na die woestyn gevlug.

Lees volledige hoofstuk Josua 8