Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 6:5-18 Bybel vir Almal (ABA)

5. Wanneer die priesters die ramshorings lank aanmekaar blaas, en julle hoor dit, dan moet al die manne hard skree om die oorlog te begin. Die muur van die stad sal dan omval, en die manne moet opklim, elkeen moet reguit vorentoe gaan.”

6. Josua seun van Nun het die priesters geroep en hy het vir hulle gesê: “Julle moet die verbondskis dra, en sewe priesters moet elkeen ’n ramshoring dra en hulle moet voor die kis van die Here loop.”

7. Josua het vir die volk gesê: “Julle moet begin loop. Julle moet om die stad gaan, en die manne wat wapens het, moet voor die kis van die Here loop.”

8. Dit het gebeur soos Josua vir die mense gesê het. Die sewe priesters wat elkeen ’n ramshoring gedra het, het voor die kis geloop en hulle het die ramshorings geblaas. Agter hulle het die priesters geloop wat die verbondskis van die Here gedra het.

9. Die manne wat wapens gehad het, het voor die priesters geloop, en die ander mense het agter die kis geloop. Die priesters het aangehou om die ramshorings te blaas.

10. Josua het vir die manne gesê: “Julle moenie skree nie, julle moet stilbly. Daar moenie ’n woord uit julle mond kom voordat ek vir julle sê nie, dan moet julle hard skree.”

11. Die priesters het die kis van die Here een maal om die stad gedra, en toe hulle by die kamp kom, het hulle die nag daar gebly.

12. Josua het die volgende oggend vroeg opgestaan, en die priesters het die kis van die Here opgetel en gedra.

13. Die sewe priesters het elkeen ’n ramshoring gedra en hulle het voor die kis van die Here geloop. Hulle het aangehou om die ramshorings te blaas. Die manne wat wapens gehad het, het voor hulle geloop, en die ander mense het agter die kis van die Here geloop. Die priesters het aangehou om die ramshorings te blaas.

14. Hulle het op die tweede dag een maal om die stad geloop en toe het hulle teruggegaan na die kamp. Hulle het dit ses dae lank elke dag gedoen.

15. Op die sewende dag het hulle vroeg opgestaan toe dit begin lig word, en hulle het dieselfde gedoen, maar hulle het toe sewe maal om die stad geloop. Hulle het net op hierdie sewende dag sewe maal om die stad geloop.

16. En toe die priesters die sewende maal die ramshorings blaas, het Josua vir die manne gesê: “Julle moet skree om die oorlog te begin, want die Here sal julle laat wen teen die mense van hierdie stad.

17. Maar julle moet die stad en alles wat daarin is, aan die Here wy en julle moet dit verwoes. Net die prostituut Ragab en almal by haar in haar huis mag aanhou lewe, want sy het ons boodskappers weggesteek.

18. En onthou, julle moet versigtig wees met alles wat aan die Here gewy is, julle moenie iets vat wat aan die Here gewy is nie. As julle dit doen, dan sal die kamp van Israel ook aan die Here gewy wees, en dan bring julle die dood in die kamp.

Lees volledige hoofstuk Josua 6