Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 17:6-16 Bybel vir Almal (ABA)

6. want die dogters van Manasse het grond gekry saam met sy seuns. Die ander Manasse-mense het die land Gilead gekry.

7. Die grond van die Manasse-stam begin langs die grond van die Aser-stam en gaan tot by die stad Mikmetat, oos van die stad Sigem, en dan suid tot by die mense wat in die stad En-Tappuag woon.

8. Die stad Tappuag is op die grens tussen Manasse en Efraim se grond. Die grond rondom die stad het aan die Manasse-stam behoort, maar die stad self het aan die Efraim-stam behoort.

9. Die grond van die Manasse-stam gaan tot teen die Kana-vallei. Die grens is noord van die vallei tot teen die see. Suid van die vallei is daar stede van Efraim, hierdie stede was tussen die stede wat aan Manasse behoort.

10. Efraim se grond was suid van die vallei en Manasse se grond was noord. Manasse se grond gaan tot by die see, en noord van sy grond is die grond van die Aser-stam, en oos is die grond van die Issaskar-stam.

11. Maar op die grond wat aan Issaskar en Aser behoort het, was daar stede wat aan Manasse behoort het. Die stede was Bet-San, Jibleam, Dor, En-Dor, Taänak en Megiddo, en die dorpies naby die stede. Die dorpies is op drie heuwels.

12. Die Manasse-stam kon nie die mense in daardie stede oorwin en wegjaag en die stede vir hulleself vat nie. Die Kanaäniete het besluit om daar te bly en in die stede te woon.

13. Toe die Israeliete baie geword het, het hulle die Kanaäniete gedwing om vir hulle te werk, maar hulle kon nie die Kanaäniete oorwin en wegjaag en die stede vir hulleself vat nie.

14. Die Josef-stamme het vir Josua gevra: “Hoekom het jy vir ons net een deel van die land gegee om aan ons te behoort? Ons is baie mense, want die Here het ons baie geseën.”

15. Josua het vir hulle gesê: “As julle so baie mense is en as die Efraim-berge nie genoeg is vir julle nie, dan moet julle die bosse gaan uitkap en vir julle grond skoonmaak in die land van die Feresiete en Refaïete.”

16. Die Josef-stamme het toe gesê: “Die berge is nie genoeg vir ons nie, en al die Kanaäniete wat in die vallei woon, het oorlogkarre van yster, die Kanaäniete wat woon in die stad Bet-San en die dorpies daar naby, en in die Jisreël-vallei.”

Lees volledige hoofstuk Josua 17