Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 15:1-15 Bybel vir Almal (ABA)

1. Hulle het lootjies getrek vir die families in die Juda-stam en hulle het vir hulle die land gegee tot ver suid van die Sin-woestyn, teen die grens van Edom.

2. Die suidgrens van Juda begin by die Sout-see, by die punt wat suid is

3. en dan gaan die grens suid van Skerpioen-pas verby na die stad Sin. Daarna gaan die grens op na ’n plek suid van die stad Kades-Barnea en dan verder verby die stad Gesron. Daarna gaan die grens op na die stad Addar en dan draai dit na die stad Karka.

4. Daarna gaan die grens verby die stad Asmona en dan saam met Egipte-spruit tot by die see. Dit is die suidgrens van Juda.

5. Die oosgrens van Juda is die Sout-see tot waar die Jordaan-rivier in die see vloei.Die noordgrens begin waar die Jordaan-rivier in die see vloei.

6. Daarna gaan dit op na die stad Bet-Gogla, en dit gaan noord langs die stad Bet-Araba verby. Dan gaan die grens op na die Klip van Bohan seun van Ruben.

7. Daarna gaan die grens van die Akor-vallei na die stad Debir, en dan draai dit noord na die stad Gilgal oorkant Adummim-pas, suid van die vallei. Die grens gaan dan verby na Semes-fontein en tot by Rogel-fontein.

8. Dan gaan die grens op deur die Ben-Hinnom-vallei tot suid van Jebusiete-berg, dit is Jerusalem, en dan gaan dit op na die boonste punt van die berg wes van die Ben-Hinnom-vallei langs die noordekant van Spook-laagte.

9. Van die boonste punt van die berg draai die grens na Neftoag-fontein, dan verder na die stede teen Efron-berg, en dan draai dit na die stad Baäla, dit is Kirjat-Jearim.

10. Van Baäla draai die grens wes na Seïr-berg, en dan langs die noordekant van Jearim-berg, dit is Kesalon, en dan af na die stad Bet-Semes en verby die stad Timna.

11. Die grens gaan daarna tot by die noordekant van die stad Ekron, dan draai dit na die stad Sikkaron. Dan gaan dit verby Baäla-berg na die stad Jabneël en daarna tot teen die see.

12. Die wesgrens van Juda is die strand van die Groot See.Dit is die grense van die grond van die families in die Juda-stam.

13. Josua het vir Kaleb seun van Jefunne ’n deel van die land gegee tussen die Juda-mense. Dit was die stad Hebron, hulle het die stad voorheen Kirjat-Arba genoem. Arba was die pa van Enak. Die Here het vir Josua gesê hulle moet die plek vir Kaleb gee.

14. Kaleb het die Enak-mense Sesai, Agiman en Talmai weggejaag uit Hebron. Hulle was die nageslag van Enak.

15. Kaleb het toe na die stad Debir gegaan, die naam van Debir was voorheen Kirjat-Sefer.

Lees volledige hoofstuk Josua 15