Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 10:20-27 Bybel vir Almal (ABA)

20. Daardie dag sal die Israeliete wat oorgebly het, die nageslag van Jakob wat nog lewe, ophou dink dat Assirië hulle kan help. Dit was Assirië wat slegte dinge gedoen het aan hulle. Hulle sal weet die Here kan hulle help, die Heilige God van Israel.

21. Die mense wat oorgebly het, sal terugkom, die mense van die nageslag van Jakob wat oorgebly het. Hulle sal terugkom na die God wat oorlog kan maak.

22. Israeliete, julle was so baie soos die sand by die see, maar min van julle sal oorbly en terugkom. Die Here het besluit baie van julle moet sterf, julle straf kom soos ’n watervloed wat oor alles stroom.

23. Die Here wat oor alles regeer, het dit klaar besluit, en Hy sal nie sy plan verander nie. Hy sal al die mense van die land straf.

24. Maar die Here wat oor alles regeer, sê: “My volk wat in Sion woon, julle moenie bang wees vir die Assiriërs nie. Hulle doen slegte dinge aan julle soos die Egiptenaars aan julle voorvaders gedoen het,

25. maar dit sal nie lank aanhou nie. Dan sal Ek nie meer kwaad wees vir julle nie. Ek sal kwaad wees vir die Assiriërs en Ek sal hulle almal doodmaak.

26. Ek, die Here wat oor alles regeer, sal hulle slaan met ’n sweep soos Ek die Midianiete by die Oreb-rots geslaan het. Ek sal my kierie oor die water uitsteek soos toe Ek die Egiptenaars laat sterf het.

27. Wanneer Ek dit gedoen het, dan sal die Assiriërs julle nie meer laat swaarkry nie. Ek sal hulle juk wegvat van julle nek, dan sal julle nie meer hulle slawe wees nie.”

Lees volledige hoofstuk Jesaja 10