Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 34:13-22 Bybel vir Almal (ABA)

13. “Die Here, die God van Israel sê: Ek het ’n verbond gemaak met julle voorvaders toe Ek hulle vrygemaak het uit Egipte waar hulle slawe was. Ek het gesê:

14. Julle almal moet elke sewende jaar elke Hebreër van julle eie volk wat ’n slaaf van julle geword het en wat ses jaar lank vir julle gewerk het, vry laat weggaan.“Maar julle voorvaders het dit nie gedoen nie, hulle was nie gehoorsaam nie.

15. En julle het nou die regte ding gedoen wat Ek wil hê. Julle het besluit om die slawe wat Israeliete is, vry te laat weggaan, en julle het ’n ooreenkoms gemaak in die tempel wat my Naam het.

16. Maar toe verander julle weer en julle ontwy my Naam en julle laat die slawe en slavinne wat julle vry laat weggaan het, terugkom en julle maak hulle weer slawe en slavinne.

17. Daarom sê Ek nou: Julle was nie gehoorsaam aan My nie, julle het nie die slawe wat Israeliete is, vry laat weggaan nie. Nou sal Ek julle vry laat weggaan, vry om te sterf in die oorlog en van pes en van honger. Ek sal julle iets maak wat al die volke sal laat skrik.

18. Julle het ’n ooreenkoms gemaak, en Ek was die getuie. Julle het ’n kalf in twee stukke gesny en toe het julle tussen die twee stukke verbygeloop. Party manne het nie gedoen wat hulle in die ooreenkoms belowe het nie. Ek sal hulle nou soos daardie kalf in twee stukke sny.

19. Ek sal dit doen met die amptenare van Juda en Jerusalem, met die offisiere en met die priesters en met al die mense wat tussen die stukke van die kalf verbygeloop het.

20. Ek sal hierdie mense vir hulle vyande gee, vir die mense wat hulle wil doodmaak, en hulle lyke sal kos wees vir die voëls en die wilde diere.

21. En Ek sal koning Sedekia van Juda en sy amptenare vir hulle vyande gee wat vir hulle wil doodmaak, vir die soldate van die koning van Babel wat weggegaan het van julle.

22. Ek sal vir hulle sê hulle moet terugkom na hierdie stad. Hulle sal oorlog maak teen die stad en hulle sal dit oorwin en verbrand. Ek sal al die mense laat verdwyn uit die stede van Juda, daar sal niemand woon nie.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 34