Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 34:1-8 Bybel vir Almal (ABA)

1. Koning Nebukadnesar en al sy soldate en al die volke oor wie hy regeer het, het oorlog gemaak teen Jerusalem en al die stede naby die stad. Jeremia het gehoor die Here sê vir hom:

2. “Die Here, die God van Israel, sê: Jy moet vir koning Sedekia van Juda gaan sê dat Ek sê: Ek gee hierdie stad vir die koning van Babel, en hy sal dit verbrand.

3. En jy sal nie kan wegvlug van hom nie. Sy soldate sal jou vang, dit is seker, en hulle sal jou vir hom gee. Jy en die koning van Babel sal mekaar sien en met mekaar praat, en jy sal na Babel gaan.”

4. Maar hoor wat sê die Here nog vir jou, koning Sedekia van Juda: “Jy sal nie in die oorlog sterf nie,

5. jy sal sterf wanneer daar vrede in jou land is. Jou mense sal vir jou ook vure aansteek om oor jou te rou, soos hulle ook gedoen het vir die konings van Juda wat voorheen regeer het. Dit belowe Ek, sê die Here.”

6. Die profeet Jeremia het dit alles vir koning Sedekia van Juda in Jerusalem gesê.

7. Dit was toe die soldate van die koning van Babel oorlog gemaak het teen Jerusalem en teen al die stede van Juda wat oorgebly het, ook teen die stede Lakis en Aseka, die enigste stede met sterk mure wat nog oorgebly het.

8. Jeremia het gehoor die Here praat met hom. Dit was in die tyd nadat Sedekia ’n ooreenkoms gemaak het met die mense in Jerusalem. Hulle het belowe dat hulle die slawe van hulle eie volk vry sal laat weggaan.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 34