Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 33:10-16 Bybel vir Almal (ABA)

10. Die Here sê: “Julle sê Jerusalem is net ’n hoop klippe, daar is nie mense of diere in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem nie, alles is verwoes, daar woon niemand nie en daar is nie diere nie. Maar Ek sê julle sal weer hoor

11. dat die mense vrolik en bly is, en dat hulle weer sal trou en bruilof hou. Hulle sal sing en sê:“ ‘Prys die Here wat oor alles regeer,want die Here is goed,en Hy doen altyd wat Hy belowe het.’“Julle sal hoor die mense bring weer dank-offers in die tempel. Hulle sal dit doen, want Ek sal dit weer goed laat gaan in die land, soos voorheen.”Dit sê die Here.

12. Die Here wat oor alles regeer, sê: “Hierdie plek is nou net hope klippe, en hier is nie een mens of dier nie. Maar hier sal weer weiveld wees waar die wagters hulle skape en bokke oppas.

13. Dit sal gebeur in die stede van die Bergland, in die stede van die Laeveld, in die stede van die Suid-land, in die land Benjamin, rondom Jerusalem, en in die stede van Juda. Die mense sal weer hulle skape tel.”Dit sê die Here.

14. Die Here sê: “Kyk, die tyd sal kom wanneer Ek sal doen wat Ek belowe het toe Ek gesê het daar sal ’n goeie ding gebeur met die volk Israel en die volk Juda.

15. Daardie tyd sal Ek ’n regte afstammeling van Dawid koning laat word, en hy sal reg doen aan die mense in die land.

16. Daardie tyd sal Ek Jerusalem red, en sy mense sal veilig woon. Die naam van die stad sal wees: ‘Die Here doen reg aan ons.’ ”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 33