Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 32:9-21 Bybel vir Almal (ABA)

9. en ek het die grond van my neef Ganamel in Anatot gekoop. Ek het vir hom 17 sikkels silwer daarvoor betaal.

10. Ek het die koopkontrak geskryf. Ek het toe met my seël ’n merk daarop gesit en ek het die getuies se name daarby geskryf. Daarna het ek die silwer op ’n weegskaal geweeg.

11. Ons het alles wat ons besluit het, op die koopkontrak geskryf en my seël-merk was ook daarop. Ek het vir my en vir Ganamel elkeen dieselfde koopkontrak geskryf en toe het ek die twee koopkontrakte

12. vir Baruk seun van Nerija seun van Magseja gegee. My neef Ganamel en al die Judeërs wat daar in die binneplaas gesit het, kon dit sien.

13. Hulle het gehoor dat ek vir Baruk gesê het:

14. ‘Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Jy moet hierdie twee koopkontrakte neem en jy moet dit altwee in ’n kleipot sit sodat dit lank kan hou,

15. want die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Mense sal weer huise en lande en wingerde koop in hierdie land.’

16. “Nadat ek die koopkontrak vir Baruk seun van Nerija gegee het, het ek tot die Here gebid. Ek het gesê:

17. ‘Ag, Here, my Here, U het die hemel en die aarde gemaak met u eie groot krag. Daar is niks wat U nie kan doen nie.

18. U is goed vir duisende mense maar U straf mense oor die sondes wat hulle voorvaders gedoen het. U is die Groot God, die God wat oorlog kan maak, u Naam is Here wat oor alles regeer.

19. U besluit oor belangrike dinge en U doen groot dinge. U sien alles wat mense doen, U kyk hoe hulle gelewe het en wat hulle gedoen het, en U gee vir elkeen wat hy moet kry.

20. U het tekens en wonderwerke gedoen in die land Egipte. Die Israeliete en die ander mense weet dit vandag nog, en almal eer U.

21. U het tekens en wonderwerke gedoen en U het u volk Israel uit die land Egipte gebring met u eie groot krag, en die Egiptenaars het bang geword vir U.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 32