Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 32:33-44 Bybel vir Almal (ABA)

33. Hulle het hulle rug na My toe gedraai, nie hulle gesig nie. Ek het aangehou om vir hulle te leer, maar hulle het nie geluister nie en hulle het nie gelewe soos Ek wil hê nie.

34. Hulle het hulle afgode in die tempel gesit, die tempel wat my Naam het, hulle het die plek ontwy.

35. Hulle het in die Ben-Hinnom-vallei offer-plekke gebou vir Baäl om hulle seuns en dogters daar te verbrand. Ek het nie gesê hulle moet so ’n offer bring nie, Ek het nooit aan so iets gedink nie. Ek haat dit dat die mense van Juda daardie sonde doen.”

36. Maar die Here, die God van Israel, sê nou: “Julle sê Ek sal hierdie stad vir die koning van Babel gee, Ek sal oorlog en honger en pes in die stad laat kom.

37. Luister, Ek was kwaad en baie ontevrede en Ek het die mense van die stad gejaag na al die kante toe. Maar Ek sal hulle bymekaarmaak uit al die lande en Ek sal hulle terugbring en hulle veilig laat woon.

38. Hulle sal my volk wees en Ek sal hulle God wees.

39. Ek sal hulle almal saam laat besluit om My altyd te dien en om te lewe soos Ek wil hê, sodat dit goed sal gaan met hulle en hulle kinders.

40. Ek sal ’n verbond met hulle maak vir altyd. Ek sal nie weggaan van hulle nie, Ek sal goed wees vir hulle. En Ek sal hulle harte verander sodat hulle My sal wil dien, en sodat hulle nie sal weggaan van My nie.

41. Ek sal dit geniet om goed te wees vir hulle. Ek sal hulle regtig in hierdie land plant, Ek sal dit doen met my hele hart.”

42. Ja, die Here sê: “Ek het hierdie volk laat swaarkry, net so sal Ek dit met hulle goed laat gaan soos Ek belowe het.

43. Julle sê hierdie land is leeg, daar is nie mense nie, en die Galdeërs het die diere weggevat, maar Ek sê: Mense sal weer hier grond koop.

44. Hulle sal geld betaal en grond koop en koopkontrakte skryf en ’n seël-merk daarop druk en getuies se name daarop skryf. Hulle sal dit doen in die land Benjamin en rondom Jerusalem en in die stede van Juda en in die stede van die Laeveld en in die stede van die Suid-land, want Ek sal dit weer goed laat gaan met hulle.”Dit sê die Here.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 32