Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 32:33-39 Bybel vir Almal (ABA)

33. Hulle het hulle rug na My toe gedraai, nie hulle gesig nie. Ek het aangehou om vir hulle te leer, maar hulle het nie geluister nie en hulle het nie gelewe soos Ek wil hê nie.

34. Hulle het hulle afgode in die tempel gesit, die tempel wat my Naam het, hulle het die plek ontwy.

35. Hulle het in die Ben-Hinnom-vallei offer-plekke gebou vir Baäl om hulle seuns en dogters daar te verbrand. Ek het nie gesê hulle moet so ’n offer bring nie, Ek het nooit aan so iets gedink nie. Ek haat dit dat die mense van Juda daardie sonde doen.”

36. Maar die Here, die God van Israel, sê nou: “Julle sê Ek sal hierdie stad vir die koning van Babel gee, Ek sal oorlog en honger en pes in die stad laat kom.

37. Luister, Ek was kwaad en baie ontevrede en Ek het die mense van die stad gejaag na al die kante toe. Maar Ek sal hulle bymekaarmaak uit al die lande en Ek sal hulle terugbring en hulle veilig laat woon.

38. Hulle sal my volk wees en Ek sal hulle God wees.

39. Ek sal hulle almal saam laat besluit om My altyd te dien en om te lewe soos Ek wil hê, sodat dit goed sal gaan met hulle en hulle kinders.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 32