Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 31:24-32 Bybel vir Almal (ABA)

24. Al die mense van Juda en sy stede sal saam in Jerusalem woon, die mense wat in die grond werk en ook die wagters wat met hulle skape en bokke na ander plekke trek.

25. Ja, Ek gee nuwe krag vir elkeen wat moeg is, Ek laat elkeen wat honger is, meer as genoeg kos kry.

26. “Dit is hoekom Ek wakker geword het en gesien het dat die tyd gekom het om mense te red.”

27. Die Here sê: “Die tyd sal kom wanneer Ek die mense van Israel en die mense van Juda baie sal laat word. Hulle en hulle diere sal baie word.

28. Voorheen wou Ek hulle uitruk en afbreek, omgooi en verwoes en Ek wou dit sleg laat gaan met hulle. Maar nou wil Ek hulle bou en plant.

29. Voorheen het die mense gesê: ‘Die pa’s het suur druiwe geëet en daarom het die kinders se tande stomp geword.’ Hulle sal nie meer so sê nie.

30. Elke mens sal sterf oor die sondes wat hy self gedoen het, elkeen wat suur druiwe eet, se eie tande sal stomp word.”

31. Die Here sê: “Daar sal ’n tyd kom wanneer Ek ’n nuwe verbond sal maak met die mense van Israel en die mense van Juda.

32. Hierdie verbond sal nie wees soos die verbond wat Ek gemaak het met hulle voorvaders nie. Ek het hulle hande gevat om hulle uit die land Egipte te bring. Hulle het my verbond gebreek, maar hulle behoort nog aan My.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 31