Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 29:6-20 Bybel vir Almal (ABA)

6. Julle moet trou en kinders kry, en julle moet julle kinders laat trou sodat hulle kinders kan kry. Julle moet meer word, nie minder nie.

7. En julle moet help dat dit goed gaan met die stad waarnatoe Ek julle laat wegvat het. Julle moet ook bid vir die mense van daardie stad, want as dit met hulle goed gaan, dan sal dit met julle ook goed gaan.

8. “Ja, die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Julle moenie luister na die profete en waarsêers wat daar by julle is nie, en julle moenie luister na die mense wat sê hulle weet wat julle drome beteken nie,

9. want hulle bring vals boodskappe en hulle sê Ek het hulle gestuur. Maar Ek het hulle nie gestuur nie.

10. Ja, die Here sê: Babel sal 70 jaar lank sterk wees. Daardie 70 jaar moet eers verbygaan. Daarna sal Ek weer goed wees vir julle en doen wat Ek belowe het. Ek sal julle dan laat terugkom na Jerusalem.

11. Ek weet wat Ek met julle wil doen. Ek wil hê dit moet goed gaan met julle in die jare wat sal kom, nie sleg nie. Julle moet kan hoop dat dit goed sal gaan met julle.

12. Julle sal vra dat Ek julle moet help, julle sal aanhou bid tot My, en Ek sal julle hoor.

13. Julle sal My soek en julle sal My kry, want julle sal My soek met julle hele hart.

14. Ek sal julle help om My te kry, en Ek sal dit weer goed laat gaan met julle. Ek sal julle bymekaarmaak uit al die volke en uit al die plekke waarnatoe Ek julle laat gaan het, en Ek sal julle terugbring hier na die plek van waar Ek julle laat wegvat het. Dit sê die Here,

15. en Hy sê dit omdat julle sê: ‘Die Here het vir ons profete in Babel gegee.’

16. “Die Here sê hierdie dinge oor die koning wat hier op die troon van Dawid sit en oor al die mense wat in hierdie stad woon, julle eie mense wat nie saam met julle na Babel moes gaan nie.

17. Die Here wat oor alles regeer, sê: Ek sal oorlog na hulle toe stuur, en honger en pes, Ek sal hulle maak soos vrot vye wat te sleg is om te eet.

18. Ek sal aanhou om hulle te laat sterf van oorlog en honger en pes. Die mense van al die lande op die aarde sal skrik wanneer hulle hierdie stad sien, hulle sal die stad se naam gebruik wanneer hulle ander mense wil vervloek. Hulle sal bang wees en fluit, hulle sal spot oor wat met die stad gebeur het.

19. Dit sal gebeur omdat hulle nie geluister het na wat Ek gesê het nie. Ek het aangehou om my dienaars, die profete, na hulle toe te stuur, maar hulle het nie geluister nie. Dit sê die Here.

20. “En julle in Babel, julle moet hoor wat sê die Here, julle almal wat Hy uit Jerusalem na Babel laat gaan het.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 29