Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 26:17-23 Bybel vir Almal (ABA)

17. Daarna het party van die leiers opgestaan en vir al die mense in die volksvergadering gesê:

18. “In die tyd toe Hiskia koning van Juda was, het die profeet Miga van die stad Moreset ’n boodskap van die Here gebring en hy het vir al die mense van Juda gesê: ‘Die Here wat oor alles regeer, sê: Die vyande sal Jerusalem omploeg soos ’n mens ’n stuk grond omploeg. Jerusalem sal net hope klippe wees, en die berg waar die tempel nou staan, sal vol bosse wees.’

19. “Koning Hiskia van Juda en al die mense van Juda het toe nie vir Miga doodgemaak nie. Nee, die koning het die Here gedien en hy het tot die Here gebid om genadig te wees. Toe het die Here sy besluit verander, Hy het hulle nie gestraf nie. En ons? Ons is nou besig om dinge te doen waaroor ons baie swaar sal kry.”

20. Maar daar was nog ’n man wat ’n boodskap van die Here gebring het. Dit was Urija seun van Semaja van die stad Kirjat-Jearim. Hy het soos Jeremia dieselfde dinge gesê teen hierdie stad en hierdie land.

21. Toe koning Jojakim en al sy soldate en al sy amptenare hoor wat hy sê, wou die koning hom doodmaak. Urija het dit gehoor en hy het bang geword en na Egipte gevlug.

22. Maar koning Jojakim het vir Elnatan seun van Akbor en ander manne saam met hom na Egipte gestuur.

23. Hulle het Urija uit Egipte gebring en hulle het hom na koning Jojakim geneem. Die koning het toe vir Urija doodgemaak en hy het Urija se liggaam in die graf van die gewone mense gegooi.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 26