Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 9:1-16 Bybel vir Almal (ABA)

1. God het vir Noag en sy seuns geseën. Hy het vir hulle gesê: “Julle moet baie kinders kry en meer word. Julle moet die aarde vol mense maak.

2. Al die diere sal bang wees vir die mense, die wilde diere, die voëls, die diere wat kruip en die visse. Julle mag hulle gebruik.

3. Voorheen was die plante julle kos. Nou gee Ek ook vir julle die vleis van die diere om te eet.

4. Maar wanneer julle vleis eet, dan mag julle nie die bloed daarmee saam eet nie. Die lewe van die dier is in sy bloed.

5. “As iemand julle doodmaak en julle bloed laat vloei, dan sal Ek hom straf en sy bloed ook laat vloei. As ’n dier ’n mens doodmaak, dan sal Ek die dier doodmaak. Iemand wat ’n ander mens doodmaak, moet ook sterf.

6. God het mense gemaak om in sy plek te regeer en hoof te wees oor die aarde. Daarom mag niemand ’n ander mens doodmaak nie. As iemand ’n ander mens doodmaak, dan moet die mense hom ook doodmaak.

7. “Noag, julle moet baie kinders kry en meer word, julle moet die wêreld vol mense maak.”

8. God het ook vir Noag en sy seuns gesê:

9. “Ek maak ’n verbond met julle en met julle nageslag.

10. Ek maak ook ’n verbond met alles wat lewe, alles wat saam met julle uit die ark gekom het, die voëls, die mak diere en die wilde diere.

11. Ek belowe vir julle: Daar sal nooit weer ’n watervloed wees wat die aarde sal verwoes en al die mense en diere sal doodmaak nie.”

12. God het ook gesê: “Ek gee vir julle ’n teken om te wys dat Ek ’n verbond met julle gemaak het. Ek het dit belowe, en dit sal altyd waar wees.

13. Ek maak my reënboog in die wolke. Die reënboog sal ’n teken wees om te wys dat Ek ’n verbond met julle gemaak het.

14. Wanneer Ek wolke oor die aarde stuur, en die reënboog is in die wolke,

15. dan sal Ek onthou dat Ek ’n verbond gemaak het met julle en met al die diere. Ek het belowe dat daar nie weer ’n watervloed sal wees wat al die mense en diere sal doodmaak nie.

16. Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, dan sal Ek daaraan dink dat Ek ’n verbond gemaak het met almal op die aarde, ’n verbond wat vir altyd sal wees.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 9