Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 6:3-12 Bybel vir Almal (ABA)

3. Toe sê die Here: “Ek sal nie meer die mense so lank laat lewe nie. Hulle is mense en hulle sal sterf. Die mense sal van nou af nie ouer as 120 jaar word nie.”

4. In daardie tyd en ook daarna was daar reuse op die aarde. Die reuse was die kinders van die engele wat met die mense se dogters getrou het. Die reuse was die sterk manne van daardie tyd, almal het geweet van hulle.

5. Die Here het gesien die mense doen baie verkeerd en hulle dink altyd net slegte dinge.

6. Die Here was hartseer. Hy was jammer dat Hy die mense gemaak het en dat Hy hulle op die aarde laat woon het.

7. Die Here sê toe: “Ek sal die mense wat Ek gemaak het, doodmaak en wegvee van die aarde af. Ek sal al die mense, die diere en die voëls doodmaak. Ek is jammer dat Ek hulle gemaak het.”

8. Maar die Here was tevrede met Noag.

9. Hier is die verhaal van Noag. Noag was ’n goeie en regverdige man. Hy het nie gelewe soos die ander mense van daardie tyd nie. Noag het God gedien en naby Hom gelewe.

10. Noag het drie seuns gehad. Hulle name was Sem, Gam en Jafet.

11. God het gesien al die ander mense op die aarde is sleg en wreed.

12. God het na die aarde gekyk en gesien die mense is almal baie sleg.

Lees volledige hoofstuk Genesis 6