Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 43:22-34 Bybel vir Almal (ABA)

22. Ons het ook ander geld saamgebring om kos te koop. Ons weet nie wie ons geld teruggesit het in ons sakke nie.”

23. Die bestuurder van die huis sê toe: “Julle moenie bekommerd of bang wees nie. Julle God en julle pa se God het vir julle geld in julle sakke gegee. Ek het die geld gekry wat julle betaal het.”Hy bring toe vir Simeon na hulle toe.

24. Die bestuurder het die broers na Josef se huis geneem. Hy het vir hulle water gegee om hulle voete te was en hy het vir hulle donkies kos gegee.

25. Hy het vir hulle gesê hulle sal daar eet. Toe het die broers hulle presente reggesit om dit vir Josef te gee wanneer hy die middag kom.

26. Toe Josef by die huis kom, het hulle die presente gebring en voor hom gebuig.

27. Josef het vir hulle gevra hoe dit gaan. Hy het ook gevra: “Gaan dit goed met julle pa wat so oud is? Julle het my van hom vertel toe julle die eerste maal hier was. Lewe hy nog?”

28. Hulle het geantwoord: “Dit gaan goed met ons pa. Hy lewe nog.”Hulle het gekniel en voor hom gebuig.

29. Toe Josef opkyk, sien hy sy broer Benjamin. Hy en Benjamin het dieselfde ma gehad. Toe vra hy: “Is dit julle jongste broer van wie julle my vertel het?”Josef het vir Benjamin gesê: “Ek bid dat God goed sal wees vir jou.”

30. Toe gaan Josef vinnig uit die kamer, want hy wou huil omdat sy broer gekom het. Hy het in ’n ander kamer gaan huil.

31. Daarna het hy sy gesig gewas en teruggekom. Hy was kalm en hy het gesê: “Sit die kos op die tafel.”

32. Josef se slawe het sy kos altyd apart bedien by sy eie tafel. Josef se broers het ook by hulle eie tafel gesit. Die Egiptenaars wat by Josef geëet het, het hulle kos ook apart gekry, want die Egiptenaars eet nie saam met Hebreërs nie. Hulle sal dit nooit doen nie, want hulle dink dit is baie verkeerd.

33. Die broers het voor Josef gesit, elkeen op sy eie plek. Die slawe het die broers langs mekaar laat sit, van die oudste tot die jongste. Die broers het na mekaar gekyk en hulle was verbaas.

34. Josef het vir die broers kos van sy tafel aangegee, maar Benjamin se kos was vyf maal meer as die ander broers se kos. Hulle het saam met Josef wyn gedrink en dronk geword.

Lees volledige hoofstuk Genesis 43