Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 41:1-12 Bybel vir Almal (ABA)

1. Twee jaar later het die farao ’n droom gehad. Hy het gedroom hy staan langs die Nyl-rivier.

2. Daar het sewe mooi vet koeie uit die rivier gekom, en hulle het gaan wei in die riete langs die rivier.

3. Daarna het daar ook sewe ander koeie uit die Nyl-rivier gekom. Hulle was lelik en maer en hulle het by die vet koeie op die rivier se wal gaan staan.

4. Toe vreet die lelike, maer koeie die sewe mooi, vet koeie op. Daarna het die farao wakker geword.

5. Hy het weer aan die slaap geraak en weer gedroom. Hy het gedroom daar is ’n koringplant en daar groei sewe mooi en vol koring-are uit die koringplant.

6. Daarna het daar ook sewe maer koring-are uitgekom. Die koring-are was verlep, want die warm oostewind het hulle droog gewaai.

7. Die sewe maer koring-are het die sewe vet, vol koring-are ingesluk. Toe word die farao wakker, en hy het besef dat hy gedroom het.

8. Die volgende oggend was die farao bekommerd oor sy drome. Hy het al die waarsêers laat roep, en ook die slim mense wat altyd vir hom moes sê wat die regte ding is om te doen. Die farao het vir hulle vertel wat hy gedroom het, maar daar was niemand wat vir hom kon sê wat sy drome beteken nie.

9. Toe sê die hoof van die skinkers vir die farao: “Ek het iets vergeet en ek wil dit vandag vir jou vertel.

10. ’n Tyd gelede was jy kwaad vir ons en jy het my en die hoof van die bakkers in die tronk toegesluit, in die huis van die hoof van die wagte wat jou oppas.

11. Ons het een nag gedroom, ek en hy. Elkeen het sy eie droom gehad, en elkeen se droom het iets anders beteken.

12. Saam met ons was daar ’n jong Hebreër. Hy was die slaaf van die hoof van jou wagte. Ons het vir hom vertel wat ons gedroom het, en hy het vir ons gesê wat ons drome beteken.

Lees volledige hoofstuk Genesis 41