Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 4:5-17 Bybel vir Almal (ABA)

5. Maar die Here was nie tevrede met Kain en sy offer nie. Kain het toe baie kwaad geword en sy mond was dik.

6. Die Here vra toe vir Kain: “Hoekom is jy kwaad en hoekom is jou mond dik?

7. As jy doen wat reg is, dan sal jy gelukkig wees. Maar as jy doen wat verkeerd is, dan doen jy sonde. Die sonde is altyd naby jou en wil jou vang, maar jy moet die sonde oorwin.”

8. Kain het vir sy broer Abel gesê: “Kom ons gaan veld toe.”Toe hulle in die veld was, het Kain sy broer Abel vermoor.

9. Toe vra die Here: “Kain, waar is jou broer Abel?”En Kain antwoord: “Ek weet nie. Ek pas nie my broer op nie.”

10. Die Here sê toe vir Kain: “Wat het jy gedoen? Jy het jou broer doodgemaak en sy bloed het op die grond geval. Daardie bloed roep My en vra My om jou te straf.

11. Daarom vervloek Ek jou. Jy moet nou weggaan van hierdie plek waar jou broer se bloed op die grond geval het.

12. Wanneer jy in die grond werk, dan sal die plante nie daar groei nie. Jy sal van een plek na ’n ander plek rondswerf en jy sal nie ’n huis hê nie.”

13. Toe sê Kain vir die Here: “My straf is te swaar om te dra.

14. U jaag my nou weg, en daar is nie meer plek vir my op die aarde nie. Ek moet ook vir U wegkruip. Ek moet rondswerf en ek het nie ’n huis waar ek kan woon nie. Elkeen wat my kry, sal my wil doodmaak.”

15. Die Here het vir Kain gesê: “Nee. As iemand jou doodmaak, dan sal Ek hom baie swaar straf.”Die Here maak toe ’n merk op Kain. Die merk het almal gewaarsku om nie vir Kain dood te maak nie.

16. Kain het weggegaan van die Here.Hy het gaan woon in die land Nod. Dit was oos van Eden.

17. Kain het seks gehad met sy vrou. Sy het swanger geword en ’n seun gekry. Die seun se naam was Henog. Kain het toe ’n stad gebou en hy het die stad ook Henog genoem.

Lees volledige hoofstuk Genesis 4