Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 35:2-12 Bybel vir Almal (ABA)

2. Jakob sê toe vir sy huisgesin en almal wat by hom was: “Gooi weg al die beelde van ander volke se gode wat by julle is. Reinig julle en trek ander klere aan.

3. Ons moet gereedmaak en na Bet-El gaan, sodat ek daar ’n altaar kan bou vir God wat geluister het na my gebed en wat my gehelp het toe ek groot probleme gehad het. Hy was by my oral waar ek gegaan het.”

4. Hulle gee toe vir Jakob al die beelde wat hulle gehad het van ander volke se gode, en ook al hulle oor-ringe. Jakob het dit alles begrawe onder die boom by Sigem.

5. Toe Jakob en sy mense wegtrek, het God die mense van die stede om hulle so bang laat word dat hulle nie vir Jakob en sy seuns gevolg en gejaag het nie.

6. Jakob en almal wat by hom was, het by die stad Lus in Kanaän aangekom. Lus se ander naam was Bet-El.

7. Jakob het daar ’n altaar gebou en hy het die plek El-Bet-El genoem, want God het daar aan hom verskyn toe hy weggevlug het van Esau.

8. Toe Rebekka nog klein was, het sy gedrink aan ’n vrou. Die vrou se naam was Debora. Debora het daar by Bet-El gesterf. Hulle het haar begrawe onder ’n boom naby Bet-El. Hulle het die boom “Huilboom” genoem.

9. Toe Jakob teruggekom het van Paddan-Aram, het God weer aan hom verskyn en hom geseën.

10. God het vir hom gesê: “Jou naam is Jakob, maar hulle sal jou nou nie meer Jakob noem nie, jou naam sal Israel wees.”So het God hom die naam Israel gegee.

11. God het ook vir hom gesê: “Ek is God die Almagtige. Jy moet vrugbaar wees en ’n groot nageslag hê. ’n Volk, ja, baie volke, sal uit jou kom. Jy sal die voorvader van konings wees.

12. Ek gee ook hierdie land vir jou. Dit is die land wat Ek vir Abraham en vir Isak belowe het. Ek gee dit vir jou en vir jou nageslag ná jou.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 35